Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 22 October 2013 23:56
Untitled Document

Rantreekse wat voorheen as deel van die Bronberg gesien is, staan vandag onder ander name bekend. Toeka se mense het die Bronberg al by Klapperkop loop haal; ‘n rantreeks wat vandag as Waterkloofrant bekend staan.

Deesdae sê die mense egter dat die Bronberg by Louis Bothalaan in Lynnwood Glen begin en platter en platter begin word tot dit naby die Bronkhorstspruit-Bapsfonteinpad (R25) doodloop.

Ria N Pieterse se lesersbrief in ons September-uitgawe het heelwat reaksie oor die ligging van die Bronberg uitgelok. ‘n Leser het vir ons ‘n kaart, wat in 1947 deur die Pretoria Publisiteitsvereniging gepubliseer is, gestuur. Dié kaart dui aan dat ‘n rantreeks genaamd ‘Bronberge’ deur Muckleneuk loop.

1841
Tog was die naam ‘Bronberg’ nie altyd die rantreeks se naam nie. Die naam ‘Baronsberg’ kom herhaaldelik in die ‘inspectie’-rapport van 1841 voor, alhoewel dit soms as ‘Berens’- of ‘Bronsberg’ geskryf is.

Uit die beskrywing van die grense van sekere plase in ons distrik kan ons min of meer bepaal hoe die rantreeks volgens die eerste intrekkers geloop het. Daar word verwys na die plaas “Tiegerpoort gelegen aan Brons Berg”, die plaas “Garstvontyn gelegen aan die Berensberg” en die plaas “Elandshoek gelegen aan Baronsberg”.

Op die oog af lyk dit asof al dié name variasies is van die rantreeks wat ons vandag as die Bronberg ken.

1955
Die boek oor Pretoria, wat met die stad se honderdjarige bestaan in 1955 uitgegee is, ‘Pretoria (1855-1955), History of the city of Pretoria’, sê dat die eerste intrekkers in die gebied die Baronsberg se begin naby Klapperkop gesien het.

Volgens dié boek het die Baronsberge op Tiegerpoort begin en weswaarts gestrek na Garsfontein waar die rand suid gedraai het, terwyl ‘n uitloper weswaarts gestrek het – die rant wat vandag Waterkloofrant genoem word.

Tog, geografies gesproke is Muckleneuk of Bronbergrant nie die voortsetting van die ‘Baronsberg’ nie, maar wel van die Skurweberg.

Riwwe
Op kaarte van 1955 word gedeeltes van die Baronsberg ‘Elliot-rif’ en ‘Glastonbury-rif’ genoem. Elliot-rif strek so min of meer van Hans Strijdom tot by die poort van Zwavelpoort. Glastonbury-rif begin by daardie poort en strek verder Tierpoort se kant toe. Vandag is die Nkwe-rif ook ‘n bekende naam wat aan die rif oos van Glastonbury-rif behoort.

Waar die name ‘Elliot’ en ‘Glastonbury’ vandaan kom, kon ons nog nie uitvind nie. En waar die naam ‘Baron’ vandaan kom is ook nie seker nie. Ons het laas maand in antwoord op Ria N Pieterse se brief genoem dat die titel ‘baron’ aan die boere bekend was omdat verskeie van die Hollandse goewerneurs van die Kaap die titel gedra het. Dit lyk of niemand weet of die bergreeks na ‘n baron of iemand met die van ‘Baron’ vernoem is nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger