Elf mense-stories wat die hart geraak het Print E-mail
News - Artikels
Monday, 23 September 2013 23:44
Untitled Document

Ons onthou met ons elfde verjaardag elf mense-stories uit die afgelope jaar wat ons ‘n traan laat pik het, ons laat lag het dat die kranse antwoord gee, ons hoop gegee het of geïnspireer het.

Seder val in Cullinan

In September 2012 het ons vertel van ‘n groep inwoners van Cullinan en Rayton, bekend as die ‘village idiots’, wat vier maande lank geoefen het om akteurs te wees. Met hope pret, baie gelag en trane knap voor die opvoering het dié amateurs PG du Plessis se ‘’n Seder val in Waterkloof’ by Cullinan se ‘Rec’ klub op die planke gebring. Die fondse uit die produksie is aangewend vir die Cullinan Erfenisvereniging se projekte en Qumi Huis vir volwasse gestremdes in Rayton.

Boschkop Olympics

The Boschkop Olympics was a western-themed family fun day held on 1 September last year. One of the highlights of the day was a hostage rescue demonstration acted out as a play by a group of men. The A-team theme song rang out as they received a call for help. From left to right: Johan Koekemoer, Richard van Zyl, Ockert Offerman and Volker Böhm. Families competed in a sad sally sack race, grandma’s silver spoon race, tri-legged race, obstacle course and the elders challenged the youngsters to a tug of war that brought tears of laughter to the spectators.

Kinders en welsynsperd

In Oktober 2012 het ons vertel dat ‘n Tweefontein-ruitertjie met ‘n 16-jarige afrigter van Bashewa na die SANESA Nasionale Kampioenskappe deurgedring het op ‘n geskenk-perd wat haar ma ‘n welsyngeval noem. Die 13-jarige Miné de Witt en haar perd Lakera het op nasionale vlak meegeding teen ruiters met perde wat derduisende rande kos. Op 16-jaar is haar vriendin Marguax Roux waarskynlik die heel jongste afrigter in die land. Miné se ma, Ananda, het gesê dat die twee kinders baie goed gedoen het so op hulle eie.

Ludwig vernoem roos

In November verlede jaar berig ons dat die bekende rooskweker, Ludwig Taschner,
vir nog ‘n eerste gesorg het - die eerste keer in Suid-Afrika dat ‘n roos na ‘n perd vernoem is. Ludwig, wat in Tygervallei as Ludwig Soleil Snyrose handel dryf, het ‘n bloedrooi roos vernoem na Sympa de Bellevue van die Summerwind Percheron-stoet op Klipkop. Die naamgee-seremonie was op 1 Desember met ‘n skemerkelkie-geleentheid. Die kiekie wys hoe Ludwig vir Johan Henning van die Summerwind Percheron-stoet ‘n bos Sympa de Bellevue rose gee.

Jacques ná ongeluk

In Februarie vanjaar het ons vertel dat dit toe amper 18 maande gelede was wat die 19-jarige Naleen Tiquin in die ongeluk voor die Ryckor-sentrum dood is en haar vriend Jacques van Zyl verlam is. Beide is uit die voertuig geslinger terwyl dit gerol het. Naleen is dood voor die paramedici op die toneel opgedaag het en Jacques was in ‘n kritieke toestand. Hy het oorleef en is as T5 parapleeg verklaar. Jacques het op 30 Desember 2012 21 jaar oud geword. Dié brawe jong man het intussen weer sy studies hervat, het geleer hoe om ‘n aangepaste motor te bestuur en het ons vertel hoe hy die hartseer in sy lewe verwerk.

Marlise se Friesperde

Marlise en Danie Botes se Doorndraai Friesperd Stoet is aangewys as die derde beste stoet in die wêreld. In April het ons vertel dat Zwavelpoort die tuiste van die wêreld se nommer een Friesperd stoet, buite Nederland is. Die Nederlands-gebaseerde Koninklijke Vereniging Het Friesch Paarden Stamboek (KFPS) het einde verlede jaar ’n lys opgestel van die top 50 telers wêreldwyd. Die eerste en tweede plekke het aan Nederlandse stoeterye gegaan en geen ander Suid-Afrikaanse Friesperd stoetery het die top 50 lys gemaak nie. Stalbestuurder, Altie Clark, links, en Marlise Botes staan by die ingevoerde hings, Tjalf 443 Sport.

Buffel se mense

In Mei het ons vertel dat Buffel, die verlore Jack Russeltjie wat langs die Boschkop-pad gevind is, herenig is met sy eienaar, Elzabé Kok. Sy het vreeslik oor haar verlore hondjie getreur. Ná ‘n wye soektog na Buffel niks opgelewer het nie, was Elzabé oortuig dat haar hondjie dood is. Dit was tot haar suster, Ina Snyman, een nag in Die Bronberger gelees het dat Juanita Jamneck die hondjie gevind het en op soek was na sy mense. Juanita is elf uur daardie nag gebel en Elzabé het uitgevind dat Buffel al die tyd net drie plotte van haar af by ‘n barmhartige Samaritaan gewag het.

‘Drone’-droom bewaar

Twee lede van 'n Zwavelpoortse gemeenskapsbeveiligingsgroep het ‘n onbemande vliegtuigie (drone) wat dag of nag verdagtes kan uitsnuffel waar hulle wegkruip, ontwikkel. In Mei berig ons dat Carl Alant en Adam van Renssen van die 'Suidwes Zulus' twee jaar gelede aan dié projek begin werk het. Hulle sit nou met 'n produk wat volgens Carl nie terugstaan vir 'n gekoopte 'drone' wat miljoene kos nie. Die battery-aangedrewe tuig vlieg outomaties na GPS-koördinate en kan redelike sterk winde trotseer. Die aanboordkamera stuur duidelike beelde van die gebied en boewe se bewegings na 'n gemeenskapslid wat voor 'n videoskerm sit.

Kaas kraai koning

In Mei het ons berig dat Danie Schutte, oudminister van binnelandse sake, se kaas, genaamd Bronberger, eerste prys op die Bloemfonteinse Skou gewen het. Dié Camembert kaas het ook derde prys in die SA Nasionale Suiwelkampioenskappe in die Kaap gewen. Die kaas word op Danie en Alphia Schutte se 89 ha Tierpoort plasie gemaak. Danie vervaardig kaas en botter onder sy eie handelsmerk en woel sedert 1994 op sy Tierpoortse plasie.

Kleurryke dominee

Dit is nie aldag wat ‘n mens die konsertverhoog met ‘n dominee vereenselwig nie, veral nie as dié dominee soos ‘n nar vir sy grappige konsert aangetrek is en sy boodskap in helder gestreepte kouse lewer nie. In Junie het ons die ongewone lewensloop van ‘n kleurryke, musikale NG dominee met lesers gedeel. Afgetrede predikant, Dirk Myburgh van Brummeria het ‘n operette, kantate en die woorde en musiek van 113 amptelike skoolliedere gekomponeer en geskryf. Hy hou ook patentregte vir sy ontwerpe van 'n nuwe klavieraksie, die huisvrou se vleissagmasjien en die motor se hoof- en domplig verstellings. Sedert sy aftrede het hy verskeie boeke geskryf en ‘n digbundel uitgegee.

Heldhaftige Giepie

In Julie het ons vertel dat die 19-jarige Giepie (Gideon) Niemand in Rayton se wêreld as ‘n held beskou word. Giepie het op 16 Julie die kaping van sy ouers se bakkie gefnuik deur agter op die bak van die bewegende voertuig te spring. Hy het die kaper deur die kajuit se oopskuifruit met die vuiste bygedam. Die voornemende kaper het beheer oor die Nissan 1400  verloor, ‘n stopteken platgejaag en met die bakkie deur ‘n betonmuur gebars. Giepie is in die proses van die bakkie afgeslinger en het ernstige hoofbeserings opgedoen. Hy was in die hoësorgsaal, maar het gou ‘n merkbare verbetering getoon. Giepie was binne ‘n week terug by die huis.

 

© 2024 Die/The Bronberger