Juanita groet Liberty na 27 jaar Print E-mail
News - Artikels
Sunday, 25 August 2013 19:28
Untitled Document

Dit is met groot hartseer wat die perde-skou en dresseerwêreld van Royal Liberty afskeid neem. Liberty is op 14 Julie in die ouderdom van 33 jaar dood. Juanita Jamneck van die Mooiplaats-gebaseerde Liberty Stalle, wat na dié perd vernoem is, vertel hier van die pad wat sy die afgelope 27 jaar saam met dié merkwaardige wese geloop het.

Juanita Jamneck

Op 3 Oktober 1986 word ek die trotse eienaar van 'n eks-resiesperd met 'n resiesrekord van sewe wenne agter sy naam en geen idee van enige iets anders behalwe hardloop nie. Na 'n paar keer se weghol en baie trane, het ek besef dat hierdie nie grappies gaan wees nie.

Ek het Liberty as sesjarige van die baan af gekoop, maar ongelukkig by 'n perdesmous en dit was byna 'n ramp. As onervare ruiter het ek nie geweet wat die smouse doen om so 'n perd rybaar te maak nie en ten spyte van my beswaar dat hy te sterk is vir my, het die smous my oortuig.


Juanita Jamneck saam met Royal Liberty in 1997 as deel van Noord-Transvaal se dresseerspan

Drie maande later was my moed in my skoene en my selfvertroue aan stukke saam met my rugwerwels en my trots. Ek was op die punt om op te gee en wou die perd weggee. Niemand wou hom egter oorneem nie want almal was te bang vir hom!

Dan maar vasbyt en my bes doen. Na nog twee jaar van stoei en spartel, het alles skielik in plek begin val. Ons het 'n span geword wat mekaar goed geken het – tot die mate dat ek geweet het wanneer hy my die dag sou afbok.


Liberty saam met Monique Kania, toe hy in 1996 kampioen by die Warmbadskou was

Eers was spring ons dissipline en met baie harde werk, kon ons later 'n baan van een meter hoog met selfvertroue spring. Beserings aan ons altwee het egter daartoe gelei dat ons iets anders moes probeer en so het ons begin skouklasse en dresseer doen. Aanvanklik het dit maar rof gegaan. Ek is in 'n skouklas by Kyalami Park voor die beoordelaar se voete neergepos en by die einste Kyalami was 'n beoordelaar se kommentaar na 'n goeie paar bokke in die dresseerarena: “Well sat. I would have abandoned ship!” 

Teen dié tyd was daar egter geen keer aan my nie en sou ek die perd met sy moeilike temperament, maar ongelooflike karakter, vir niks ruil nie. Hy het daarna bewys dat hy die beste kon wees deur vele kampioenskappe te wen en het ook vir die destydse Noord-Transvaalspan in beide dresseer en skouklasse deelgeneem.


Liberty by ‘n ‘fancy dress’ kompetisie in 2010

Deur die jare moes ek Liberty by verskillende stalle hou omdat ons in die stad gebly het. Wat dit besonder moeilik gemaak het, was die feit dat hy baie maklik koliek kon kry en sekere kosse glad nie kon eet nie.

Na 'n koliekoperasie op 16-jarige ouderdom, waar sy kanse op oorlewing maar sleg gelyk het, is 'n streng dieet voorgeskryf. Om staleienaars egter te oortuig dat hy byvoorbeeld nie lusern mag kry nie, was 'n verlore stryd.

Uiteindelik, na baie jare van soek, het ons die geleentheid gekry om 'n plot te koop en ons eie stalle te hê. Volgens my man was daar net een moontlike naam: ‘Liberty’ ter ere van die ou man (toe reeds 23 jaar oud) en omdat ons uiteindelik vryheid uit die stad gekry het.


Liberty saam met sy merrie, Safety Catch, vroeër vanjaar

Liberty het op 21-jarige leeftyd uit amptelike dresseerkompetisies getree maar daarna het ek hom nog 'n paar keer in Westerse rykuns geskou. Selfs hierin was hy baie suksesvol, ten spyte daarvan dat die wat weet gesê het dit is onmoontlik om 'n perd op sy dresseervlak Westers te leer.

Op 26-jarige leeftyd het ek opgehou om hom te ry omdat ek gevoel het dat hy sy rus verdien het. Na al die jare van lojaliteit kon hy maar net sy laaste jare saam met ‘sy eie’ merrie in sy kamp deurbring. Min het ek geweet dat die laaste jare nog lank sou wees.

Liberty het die ouderdom van 33 jaar en 9 maande bereik en toe, op 'n koue Sondagoggend, kon hy nie opstaan in sy stal nie en moes ons die onmoontlike doen. Sy plek sal altyd hier op Liberty wees en sy legende sal altyd in ons harte leef.

 

© 2024 Die/The Bronberger