Print E-mail
News - Artikels
Monday, 29 April 2013 14:58
Untitled Document

Zwavelpoort is die tuiste van die wêreld se nommer een Friesperd stoet, buite Nederland. Doorndraai Friesperd Stoet is aangewys as die derde beste stoet in die wêreld.

Die Nederlands-gebaseerde Koninklijke Vereniging Het Friesch Paarden Stamboek (KFPS) het einde verlede jaar ’n lys opgestel van die top 50 telers wêreldwyd.

Die eerste en tweede plekke het aan Nederlandse stoeterye gegaan en geen ander Suid-Afrikaanse Friesperd stoetery het die top 50 lys gemaak nie.

KFPS se hoofkantoor is in Drachten, Friesland. Die vereniging het meer as 16 000 lede en meer as 60 000 Friesperde is by hulle geregistreer.

Die lys van die 50 beste stoeterye ter wêreld word deur ‘n internasionale keuringskomitee opgestel. Die uitslae is gebaseer op die resultate wat stoete met die jaarlikse keuring bereik.

Keurders van KFPS besoek Suid-Afrika een keer per jaar om perde reg oor die land te evalueer. Vullens en ouer perde word ‘in-hand’ gewys of ingeskryf vir ‘n IBOP toets, amper soos ‘n dresseer-toets, onder saal of in die enkeltuig. Faktore soos konformasie, rasegtheid en beweging word deur die keurders in ag geneem wanneer sterre en premies uitgedeel word.


Stalbestuurder, Altie Clark, links, en Doorndraai Friesperd Stoet-eienaar, Marlise Botes, regs, saam met die ingevoerde hings, Tjalf 443 Sport, by Doorndraai se ingang in Zwavelpoort
Foto: Doorndraai

Stoet
Doorndraai Friesperd Stoet is in die middel negentigs deur Marlise en Danie Botes geregistreer en is al meer as vyftien jaar leiers in die Friesperd-teelbedryf. Marlise is ‘n lid van die Friesperd Stamboek van Suider Afrika (FPSSA), wat aan die KFPS geaffilieer is.

Skoue word dikwels deur ingevoerde perde oorheers, maar Doorndraai se plaaslik geteelde perde raap jaarliks kampioenskapklasse onder ingevoerde perde se neuse weg. 

By die onlangse Perd van die Jaar-kampioenskappe in Kyalami, Johannesburg het Bart van Doorndraai by sy broer Wynand van Doorndraai oorgeneem as die senior kampioen hings in-hand.


Pandora en ruiter Jolanda Schreuder
Foto: Photographix Studio

Teel
Stalbestuurder, Altie Clark, sê dat ‘n fyn beplande teelbeleid ‘n groot rol in die stoetery se sukses speel.

Doorndraai het die eerste Suid-Afrikaans geteelde preferent-merrie, Loret, in 2010 geregistreer. ‘n Merrie kwalifiseer vir preferent-status as vier van haar afstammelinge ster-status by die jaarlikse keuring behaal. Om ster-status te behaal moet ‘n perd rasegtheid, uitstaande beweging en puik konformasie hê.

Loret is ongelukkig net ná sy preferent geword het aan die Wes-Nyl virus dood en sedertdien het nog twee van haar afstammelinge ster-status verkry, wat beteken dat sy ses sterre uit haar agt vullens geteel het.

Pandora van Doorndraai, een van Loret se ster-merrie vullens, het een van slegs drie Suid-Afrikaans geteelde kroon-merries geword. Sy is die enigste kroon-merrie in Suid-Afrika wat geteel is deur ‘n vulboek hings, Friso fan S.


Wynand van Doorndraai
Foto: Hennie en Heather van den Berg van H2 Photography

Kroon
Om kroon-status te verkry moet ‘n merrie van drie-jarige ouderdom of ouer ‘n eerste premie ster behaal by die jaarlikse keuring. Daarna nooi die keurders hulle uit vir ‘n tweede besigtiging waarna hulle ‘voorlopig kroon’ kan word.

Om as ‘n kroon-merrie te kwalifiseer moet perde ‘n IBOP toets doen, waar hulle 77% of hoër moet behaal. Pandora het na slegs twee maande onder saal in Februarie vanjaar 79.5% behaal en het daarna die trotse status van kroon bereik. 

Pandora se pa, Friso fan S, is een van Doorndraai se uitblinkers en het die meeste eerste premie vullens in die land geteel. Op 12-jarige ouderdom was Friso al ‘n rekord vyf keer die FPSSA Nasionale Kampioen in-hand en vier keer die FPSSA Nasionale Kampioen in die enkeltuig.

Vir meer inligting oor preferent, kroon en ster-status, die keur en registrasieproses of as jy die stoetery wil besoek, kontak vir Altie by 083-299-1356 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of gaan na die Doorndraai webwerf by www.doorndraaistud.co.za.

Bron: Altie Clark


Tjalf 443 Sport met Jolanda Schreuder
Foto: Photographix Studio

 

© 2024 Die/The Bronberger