Ludwig vernoem roos na Klipkopse kampioen-perd Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 21 November 2012 08:53
Untitled Document

Die bekendste rooskweker in ons kontrei het ‘n nuwe roos na ‘n Klipkopse kampioen stoethings vernoem. Volgens Jan Engelbrecht van die Summerwind Percheron-stoet is dit die eerste keer in Suid-Afrika dat ‘n roos na ‘n perd vernoem word.

Ludwig Rose, wat in Tygervallei as Ludwig Soleil Snyrose handel dryf, het ‘n bloedrooi roos vernoem na Sympa de Bellevue van die Summerwind Percheron-stoet op Klipkop. Die naamgee-seremonie is op 1 Desember met ‘n formele skemerkelk-geleentheid by die Roosskuur op Ludwig se roosplaas noord van Pretoria.


Die Percheron-hings, Sympa de Bellevue, by die roos wat na hom vernoem is
Foto’s: Anita Engelbrecht

Sympa
Sympa is ‘n ingevoerde Percheron hings wat 17,2 hand hoog staan en die skaal tot by ‘n ton trek. Hy is in 2009 deur Summerwind se Johan Henning van Frankryk af ingevoer. Sympa se moer, Mona 18, was in 2007 die groot kampioen merrie in Frankryk en sy vaar, Lido 3, is ’n beproefde hings by die Nasionale Percheron-stoet in Le Pin, Frankryk.

Sympa was die eerste Percheron hings wat in 41 jaar vanuit Frankryk na Suid-Afrika ingevoer is. Hy het ook verlede jaar die ‘Perd van die Jaar’ titel verower.

In Maart verlede jaar het ons berig dat Sympa as die opperste groot kampioenteelperd aangewys is. Hy het teen 17 raskampioene deelgeneem en was die eerste Percheron wat die titel kon verower, wat bewys dat die Percheron terug is in die skouring as ’n gedugte teenstander waarmee rekening gehou moet word.

Summerwind het in Augustus nog ses Percherons vanuit Frankryk ingevoer en spog nou met die meeste ingevoerde Percherons in die land, asook die grootste genetika-poel.


Ludwig Taschner, middel, gee vir Natalie Hogg en Johan Henning van die Summerwind Percheron-stoet ‘n bos Sympa de Bellevue rose

Ludwig
Ludwig Rose is in 1971 op die oorspronklike plaas noord van Pretoria, naby die Wallmannstahl/Pyramid afrit, deur Ludwig Taschner begin. Ludwig is in die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland gebore en het in 1960 uit Oos-Duitsland ontsnap.

Hy het in kwekerye in Wes-Duitsland, Switzerland en Engeland gewerk en het in 1962 Pretoria toe getrek waar hy Buss Kwekerye bestuur het tot hy Ludwig Rose begin het.
Hy het in 1978 met Pamela Lange van Upington getrou en hulle het drie kinders.

Vandag is Ludwig Rose internasionaal bekend en Ludwig werk saam met 25 kwekers dwarsoor die wêreld. Hy toets jaarliks honderde nuwe rose vir aanpassing in ons land se klimaat. Uit dié kies hy tien tot twintig variëteite wat amptelik name kry en kommersieel beskikbaar gestel word.

Ludwig het verskeie toekennings ontvang vir sy werk in die rooskwekersbedryf in Suid-Afrika en hy was ook sekretaris en tesourier van die Wêreld Federasie van Roosverenigings. Die Snyroosgroeiersvereniging van Suid-Afrika het in 1990 onder Ludwig se inisiatief tot stand gekom.
Hy het verskeie boeke en katalogusse oor rose geskryf en sy elektroniese nuusbrief word maandeliks aan 16 000 tuiniers gestuur.

Behalwe vir die plaas noord van Pretoria het Ludwig ook Soleil, die Bronberg-gebaseerde kommersiële snyroosplaas, en roossentrums in Johannesburg, die Wes-Kaap en KwaZulu Natal ontwikkel.


Sympa met sy naamgenoot-rose in sy maanhare

Roos
Sympa de Bellevue is ‘n groot helderrooi roos met ‘n balvormige blom wat op ‘n sterk stam gedra word. Dié staanrose kan ook as ‘n heining aangeplant word en die plant kos R89.

Ludwig Soleil Snyrose is op plot 4, Tygervallei, uit met Lynnwoodweg-verlenging. Vir meer inligting, skakel 012-817-2091/9 of 083-247-4688 of stuur ‘n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger