Kampioen-kudde op veiling verkoop Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 21 November 2012 07:56
Untitled Document

Goeie pryse is behaal op die staakboerdery veiling van die Da Vél Ile De France stoet van Dawid en Elsabé Victor. Die veiling was in Oktober by Cullinan se KWD-Voerekompleks.


Elsabé Victor met een van die lammetjies wat by die veiling van die Da Vél Ile De France stoet gegroet moes word

Negentig lotte stoetdiere met ‘n suiwer Ile De France-lyn is verkoop. Van die diere wat verkoop is, sluit in: 50 stoetooie (met lammers, oop en dragtig), 35 stoet aangetekende speenooie en ramme (almal lammers van SA Reserwe Junior Kampioen, Ram 2011) en 30 jong kommersiële ooie. Te koop was ook 300 strooitjies saad.

Sommige jong gespeende ooitjies van drie maande oud is vir R3,000.00 elk verkoop en een selfs vir R6,000.00


Elsabé, Dawid en sy ma Lyna Victor staan vroeg-oggend gereed om die kopers te ontvang

Die du Preez-gesin van Kleinzonderhout het ‘n stoetram op die veiling gekoop. Johan du Preez, wat saam met sy seun met Ile de France skape boer, sê dié stoetram gaan hulle help om van telersvlak vier na vlak vyf te skuif vir registrasie. 

Jan Swart van BKB-Veilings, wat vendusies oor die hele land hou, sê dit was die beste Ile De France veiling in drie jaar.


Die veilingkraal

“As omstandighede dit vra, dan neem jy ‘n besluit al is dit swaar,” het Dawid Victor gesê. “Om skape waarmee jy daagliks gewerk het te verkoop, is ‘n besluit wat jy oor maande neem.”


Martin en Lesley-Ann du Preez van Kleinzonderhout, wat in die vendusie-kraal saam met Elsabé staan, is voornemende skaapboere.
Foto’s: Jack Maré

Dawid vertel dat die Ile de France geken word aan hulle vrugbaarheid, meerlinge en hulle bouvorm wat meer vleis dra. Dit is ‘n ras wat meer vleis per hektaar kan produseer, sê hy.

 
 

© 2024 Die/The Bronberger