Geluk aan die Bronnie Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 26 September 2012 01:09
Untitled Document

Advertensies geraadpleeg

Juanita Jamneck van Mooiplaats skryf:
Baie geluk met die Bronnie se 10e jaar! As iemand wat net ‘n paar maande voor die eerste uitgawe verskyn het, self ‘n nuwe inwoner in die Bronberg was, het ek dit nog altyd onmisbaar gevind.

Die eiesoortige karakter, die skindernuus en die inligting uit die omgewing hou ons op datum van alles wat aan die gang is – veral sedert ons ‘n paar jaar gelede ons gunsteling kuierplek waar ‘n mens al die nuus kon kry, verloor het.

Die advertensies word ook op ‘n gereelde basis in my huis geraadpleeg – as ons enige iets soek of moet laat doen, gryp ons eerste die Bronnie! Hoop daar is sommer nog baie jare se uitgawes!

Advies aan sakemense

Freda Scott van Bee Tree Farm, Cullinan skryf:
Baie geluk, julle twee hardwerkende mense. Dit wil gedoen wees. In Mei 2009 het ek Bee Tree Farm gekoop, en bemarking begin doen. Die plaas was immers as een van die top 101 voëlkyker-destinasies aangewys deur ons voëlkyker fundi’s, en so opgeteken in uitgawes van "Top 101 birding destinations in Gauteng".

Nuut in Cullinan, het ons vriende leer ken, en waar is 'n beter plek as die kuierplekke in Oaklaan, en daar het ons Die Bronberger raakgeloop/gekuier en hoe aangenaam om deel te word van 'n plaaslike landelike omgewing en glanstydskrif 'Bronberger' en om die tydskrif elke maand deur te lees en 'kontrei nuus' en nuusbrokkies en geskiedenis van Cullinan te leer ken.

Wel, drie jaar later en maande vooruit se vol besprekings in beide die Cottage en Boma, is dit aangenaam om 'uit te brei' en 'n nuwe roete aan te pak en kruie op grootskaal te groei en te kan bemark deur Die Bronberger.

Mag ons nog 10 jaar vorentoe nog steeds uitsien na Die Bronberger.

Advies aan alle nuwe besigheidseienaars: adverteer gerus in dié glanstydskrif.

Bronnie is toegewy

Dirk Smith van die Kungwini Welsyn Organisasie skryf:
Baie geluk met ‘n baie suksesvolle tien jaar! As deel van die plaaslike gemeenskap, is Kungwini Welsynsorganisasie trots daarop om Die Bronberger as mediaverteenwoordiger van die gemeenskap te hê.

Oor die laaste tien jaar het Die Bronberger bewys dat hy toegewy is aan die plaaslike gemeenskap deur akkurate, smaakvolle en relevante joernalistiek.
Ons het groot waardering vir die ondersteuning, liefde en omgee wat ons organisasie van die tydskrif ontvang.

Kungwini Welsyn wens Die Bronberger baie voorspoed toe met die volgende tien jaar. Mag die tydskrif van krag tot krag gaan.
Hou so aan!

Trots om julle te ken

Esperance Grobler van Wapadrand skryf:
Liewe Angie en Gerhard, ek kan nie glo dat dit nou al 10 jaar is nie! Ek het saam met julle die pad gestap, van daardie eerste waag-uitgawe, deur al die bloed, ink, sweet, trane en pret.

Ek onthou nog die "Bronberger Kontreimarkte" met al die drama's daar rondom, goed en sleg! En die "Bronberger Gedigte-aande".

Elke maand as Angie kom Bronnies aflewer dat ek dit by die skool kan gaan aflaai, maak ons 'n goue-oggend-koffie-geleentheid daarvan, wat my met soveel energie en liefde vervul dat ek dae daarna nog lekker voel!

My amper ses-jarige Danielle het gepryk op Uitgawe nr 2 se voorblad . . . nou word sy 16 jaar oud. My drie-jarige Tanikatjie het April 2004 op 'n perdjie gesit by een van julle kontreimarkte . . . nou is sy 11 jaar oud. Dit gee my rillings tot in my kleintoontjie!

Die Bronnie was 'n babatjie wat gegroei het tot 'n trotse, selfstandige, kragtige spreekbuis vir mense wat nog mense is. Wat nie bang is om te praat oor die waarheid nie.

Baie hartlik geluk uit my hart uit . . . julle geduld, geloof in dit wat reg en goed is, baie harde werk en passie vir julle omgewing vryf af op soveel mense . . . en julle maak regtig 'n verskil. Ek is ongelooflik trots om julle te ken.

Bronnie is the best

Barbara Corrine Bennett from Bashewa writes:
Happy 10th Birthday to The Bronberger magazine, and may you prosper for many more marvellous years. I cannot wait to collect my Bronnie each month as well as a few extra for my friends. I find your articles extremely well researched and have learnt a lot.

I love trying out the eateries which Vreethans has tried and tested. I found the very best plumber in your fab mag, namely Johan from Noodkreet Loodgieters. The same cannot be said for another Johan who did not keep his word.

I love the nurseries and pubs that are advertised. My favourite informative articles are the ones pertaining to our beautiful birds and indigenous trees, which I buy from my favourite nurseries, namely Blyfontein and Hedera.

My thanks and gratitude go out to Gerhard and Angie for your true dedication in producing the very best local news magazine.

Lewer gemeenskapsdiens

Edu Kleyn skryf via Die Bronberger se Facebook-blad:
Die Bronberger is ‘n voorbeeld van keurige joernalistiek; ek hoop dat die mense in die verspreidingsgebied die publikasie waardeer. Ek bly nie in die area nie en wens ons het so ‘n nuusblad gehad, wat ‘n werklike diens aan die gemeenskap lewer.

Die nuusberigte is skerp en spitsvondig en van belang vir die inwoners. Die maandelikse rubrieke is van hoë gehalte en goed geskryf.

Die Bronnie se diens aan die gemeenskap is wonderlik om te sien: verlore diere, fondsinsameling vir minderbevoorregtes, ondersteuning van die stryd teen misdaad, ens.

Ek wil die Bronnie-span gelukwens met julle puik tydskrif. Dit bewys dat daar nog plek is vir die private uitgewer in die perswêreld, wat gebaseer is op ‘n persoonlike interaksie tussen die publikasie en die publiek wat hy bedien.

Geluk met die mylpaal van tien jaar!

Onthou eerste keer

Cotie Steyn-Chieppa skryf:
Hoe goed onthou ek die dag toe ek Die Bronberger vir die eerste keer gesien het. Dit was by Leeubrug se tak in Lynnwood. Tot my verbasing is dit ook verniet. So het die kassiere my ingelig. 'n Maandblad om na uit te sien.

Die artikels vind ek ook baie interessant. Nie een wil ek uitsonder nie. Veral die feit dat ek ook daardie omgewing ken van my kindsdae af. Dit was in die veertiger jare . . .

Maar daarvan sal ek nog vertel.

Voorspoed aan die redakteur en almal wat hulle deel bydra.

Kan nie daarsonder nie

Lynn van der Meij van Wapadrand skryf:
Kan nie glo dis 10 jaar later nie! As ‘n Engels-sprekende vrou kan ek nie sonder my Bronnie nie, en om te dink dis nog steeds gratis. As eiendomsagent (Aïda) van Wapadrand, dankie vir al die plaaslike nuus asook al die sorg vir my gunsteling belang, Wet Nose.

May you go from strength to strength in this crazy world.

Goeie wense vir Neef en gade

Oupa Noki van Boschkop skryf:
Dit is van pure ontsteldheid dat ek vanoggend die pen opneem. Ek sien dat onse gemeente nou ook ingeteken het op julle koerant. Neef moet maar selwers kom kyk, die goed lê daar by die kerk soos kerkbodes rond.

Nou wonder ek maar of ou dominee ook daaruit gaan preek eendag. Behoede my. Dan moet neef tog asseblief ou dominee se koerant so twee weke voordat dit op straat kom, uitstuur sodat die eerwaarde darem sy preek goed kan voorberei, voordat die hele gemeente dit in elk geval reeds gelees het. Dan sê ek Neef, loop hierdie kerk verseker leeg.

Sal neef sommer myne ook dan bring sodat ek darem weet waarvan ou dominee praat. Maar ek kan nou al sê dis finaal. Klaar met ons gemeente. Ek meen te sê: Die wedervaringe van ou Poon van die kansel af! Die gemeente sal swaar sluk daaraan!

Om net te dink dat Gert Mossie en Allen Prentjies in hierdie nuwe evangelie die gerespekteerde waarsêers gaan wees. Bid jou dit aan.

Nee swaer, dis finaal!

Maar as ek dan net ietsie van Neef kan vra: Kan Neef nie tog asseblief vir ons ou mense die busroetes en vertrektye hier van Boschkop af dorp toe elke week adverteer nie. Hoewel ons nie weet wanneer om ‘n bus te verwag nie, het ons nog nooit een eers gesien nie. Lyk my hulle verander die tafels elke week. Dis nou twee maande dat ons nie die pensioen kon loop haal nie.

Hoor dat die koerant nou tien jaar oud word. Neef, ons kan net goeie wense uitspreek vir Neef en die jonge gade. Voorwaar ‘n geloofbare plek om die nuus te lees.

Ons is saam met julle bly en baie trots op onse eie koerant.

Lyk my hulle het geweet wat ‘n sware job hul vir Neef gegee het met hierdie werk, en het toe maar onse geliefde mevroutjie saam gestuur as troos. Dis net ‘n genade.
Veels geluk, julle! Ons vat ‘n snapsie saam op julle.

Nog goeie wense

Pieter Schoombee van Hermanus skryf:  
Oom PK en Tannie Angeliertjie! Baie geluk, uit my hart uit. Dis ’n baie moeilike ding om met jou eie geld gedoen te kry en julle doen dit uitmuntend! Viva Bronnie Viva!

Jeanette van Heerden van Tierpoort skryf:
HOERA! Baie geluk! Ek het my eerste uitgawe jare terug by Tiegerpoort kafee en slaghuis gekry. Ek geniet elke uitgawe nog steeds! Baie dankie vir julle harde werk!

Engela J Burger van Tzaneen skryf: 
Baie geluk! Voorwaar 'n prestasie!

Barbara Corrine Bennett van Bashewa skryf:
Yippy yay; ek is mal oor Die Bronnie . . .

Albert Buitenhuis van Christchurch skryf: 
Alle voorspoed, van julle verste leser.

Elize Doman van Pretoria skryf: 
Wow - dis wonderlik; ek is so bly dat julle al so lank so suksesvol kon wees. Baie geluk julle, dis 'n “job well done” deur mense met 'n passie vir die joernalistiek. Doen so voort!

Barbara Hiscock van Faerie Glenn skryf:
Congrats to both of you for the stunning magazine, done in excellent taste and so very informative. Thanks for the hard work you put into it, time and effort. Well done!

Magriet Kruger van Baviaanskloof skryf:
Baie geluk met julle harde werk, sukses, en 'n uitstekende publikasie, Gerhard en Angie. Julle het baie rede om trots te wees, soos almal wat die publikasie ontvang ook. Mag daar nog sommer baie dekades van Bronberger voorlê!

Herman le Roux van Randburg skryf:
Gerhard en Angie, julle doen skitterende werk. Die Bronnie is 'n groot sukses. Toe ek en Rina in Mei die eerste keer gaan kyk het hoe lyk Cullinan het ek moeite gedoen om 'n Bronnie in die hande te kry. Die verskeidenheid artikels op die glanspapier was weer eens indrukwekkend. Die adverteerders behoort in hul skik te wees. Ek het ook weer by jul webwerf gaan inloer hoe lyk Augustus se Bronnie, die een met die mooi eend op die voorblad.

 

© 2024 Die/The Bronberger