Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 26 September 2012 01:06
Untitled Document

Al ooit gewonder waar die kinders wat deur die jare op Die Bronberger se voorblaaie verskyn het, nou is? Ons het tien voorblaaie uit ons tien jaar gekies en wys jou hoe daardie kinders nou lyk en vertel jou wat hulle vandag doen

Oktober 2002 – Danielle Grobler

Dié voorbladfoto is in Oktober 2002, ’n maand voor Danielle Grobler van Wapadrand ses jaar oud geword het, gebruik. Sy staan bo-op die Bronberg, skuins agter Willow Quarries se mynbedrywighede.

Danielle het die jaar daarop vir die eerste keer skool toe gegaan. Sy is nou 15 jaar oud, en is in graad 10 aan Hoërskool Garsfontein. Sy is ‘n kranige danser; het jare lank ballet en Spaanse danse gedoen en onlangs oorgeskakel na kontemporêre dansklasse. Danielle het in Hoërskool Garsfontein se onlangse musiekblyspel, ‘On Broadway’, gedans. Sy blink ook uit as sangeres en neem aan die Pretoria Eisteddfod en ander kunswedstryde deel. Die Foksie in die voorgrond, Griet, bly nog op Zwavelpoort. Sy is vandag ietwat ronder en effe doof.

Desember 2002 – Ebert Steyn

Ebert Steyn was 13 jaar oud op dié vakansie se visvang-voorblad. Die foto is in Desember 2002 op Hendrik Ver Loren Van Themaat se Zwavelpoort-plot deur Ebert se oorlede pa, Johan Steyn, geneem .

Vandag is Ebert 22 jaar oud en help om ‘n TV visvang-reeks te vervaardig. Ebert werk vir Petri de Wet, en hulle vervaardig twee TV reekse wat op KykNet uitgesaai word: die visvang program “Hier Gaan Ons Alweer!!!” en “Safari 4x4 Roetes”. Ebert sê dat hy nie self visvang op die program nie, maar slegs aan die produksie-gedeelte werk. In sy vrye tyd doen hy vryskutwerk vir musiek-videos, troues, konserte, en fotografie.

Maart 2003 – Theodora en Anthea Michaletos

Theodora en Anthea Michaletos, dogters van Pedro en Rose Michaletos van Farm Inn, het in Maart 2003 saam met ‘n klein jagluiperdjie op die Bronnie se voorblad verskyn. Dit is nie alle kinders wat gelukkig genoeg is om saam met leeus, luiperds, jagluiperds en selfs tiere groot te word nie. Anthea was 11 jaar oud en sy het pas 20 jaar oud geword.

Sy is ‘n tweede jaar BSc Biologiese Wetenskappe student aan die Universiteit van Pretoria en beplan om veeartsenykunde te studeer. Theodora was ses jaar oud toe die foto geneem is en sy is nou 15 en in graad 10 by Tyger Valley College.

November 2003 – Angelika de Beer

Angelika de Beer was in graad tien in die Duitse Skool toe sy op dié November 2003 voorblad verskyn het. Sy is daardie jaar gekies as Mej Oktoberfest en is bo-op die Bronberg tussen blommende bobbejaansterte afgeneem. Angelika is die dogter van Tjoeks en Irmela de Beer van Star Trading in die Zwavelpoortsentrum, wat vandag bekend staan as East Ridge Building Supply Centre.

Deur die jare het lesers haar leer ken as die vriendelike De Beer dogter wat in haar ouers se winkel uitgehelp het. Vandag is Angelika ‘n onderwyseres by die Hoërskool Menlopark en rig die O/16 C hokkiespan af.

Desember 2003 – Alindi Scheffer

Alindi Scheffer van Klipkop het saam met Charlotte die Friesperd gesorg vir ‘n Kersfeesfoto op ons Desember 2003 voorblad. Sy is die dogter van Schef en Arna wat daardie jare Langa Voere en hardeware in die ou Zwavelpoortsentrum bedryf het. Alindi was op Laerskool Tygerpoort en is as Tygieraad leier aangestel.

Sy is in 2008 Hoërskool Montana toe en op 19 September 2008 het sy en haar sussies Eliztine en Zelmari hulle pa, Hercules (Schef) Scheffer, aan ‘n hartaanval verloor. Haar ma, Arna, het in 2010 met Evert Greyvenstein getrou. Alindi is as VLR in 2011 en 2012 aangestel. Oor naweke verdien die 18-jarige Alindi ’n geldjie as kelnerin by Kitty Hawk vliegveld. Sy wil volgende jaar haar droom najaag en Sport-beweegkunde studeer.

April 2004 – Tanika Grobler

Die voorbladfoto van April 2004 is geneem toe Tanika Grobler van Wapadrand pas drie jaar oud geword het. Sy was nog op kleuterskool en het ponie-gery op Die Bronberger se kontreimark wat by B-House langs Garstfonteinweg-verlenging gehou is.

Tanika is nou 11 jaar oud, en is in graad vyf in Laerskool Tygerpoort. Sy neem HipHop en moderne-dansklasse, en is baie lief vir kuns en pottebakkery. Sy is ‘n kreatiewe entrepreneur wat gereeld allerhande kunswerke skep en aan almal verkoop.

Maart 2005 – Alexa Swart

Alexa Swart was in die CVO skool in Lynnwoodweg-verlenging toe sy in Maart 2005 op ‘n reuse baal op die Bronnie se voorblad gepryk het. Dié bale is langs haar grootword-plot in Bashewa, Garstfonteinweg-verlenging vanwaar haar pa, Braam Swart, Kwêvoël Omheinings bedryf. Alexa is vandag ‘n honneurs student in joernalistiek op Puk en ‘n resensieskrywer vir @sa_musicscene.

Die onlangser foto van haar is weer op ‘n baal in dieselfde veld geneem. Alexa is die kleindogter van Prof Alkmaar Swart, stigter van CVO Skool Pretoria, en sy vrou Anne wat jare lank ‘n onderwyseres in Afrikaans was.

Julie 2005 – Hannerie de Wet

Hannerie de Wet was saam met twee Pirenese bergbokkies by Kekkel en Kraai op Julie 2005 se voorblad. Dié plaasdier-pretplaas was op dieselfde plot as Hedera Kwekery in Bashewa. Hannerie was drie jaar oud toe die foto geneem is en sy is die dogter van Hannes van Hedera en Riana, sekretaresse, jeug en musiek, by die NG Gemeente Tygerpoort.

Sy is nou 10 jaar oud en in Laerskool Tygerpoort. Hannerie is steeds baie lief vir diere en haar passie is om perd te ry. Sy ry by Harmonie stalle en het vanjaar uitstekend gevaar by die SANESA skole-skou.

Desember 2005 – Matthew Christie

Matthew Christie van Mooikloof was vyf jaar oud toe hy en die klein Rottweiler hondjie gesorg het vir Desember 2005 se Kersfees-voorblad. Die foto is op Matthew se oupa, Jan Vosloo wat in Februarie daardie jaar oorlede is, se Zwavelpoortplot geneem.

Die Rottweilertjie se pa, Rommel, was Matthew se oupa se hond. Matthew is nou 12 jaar oud en is steeds baie lief vir diere en geniet die buitelewe. Hy is in St Paulus Laerskool in graad ses en speel graag kitaar en krieket.

Februarie 2006 – Son-Isha Coetzee

Son-Isha Coetzee van Mooikloof het in vloedwater baljaar op die Bronnie se Februarie 2006 voorblad. Sy was sy nege jaar oud. Son-Isha het in 2005 vir haarself ‘n wêreld-titel los gesing in Los Angeles, Amerika by die internasionale kampioenskappe vir uitvoerende kunste. Sy het in Mei 2006 haar eerste CD bekend gestel.

Son-Isha het in 2009 begin yshokkie speel, het dieselfde jaar Noord-Gauteng kleure gekry en het Suid-Afrika vanjaar in Vierumaki, Finland verteenwoordig by ‘n internasionale yshokkie-ontwikkelingskamp vir uitgesoekte meisies van regoor die wêreld. Sy was een van net twee meisies wat gestuur is uit Suid-Afrika. Son-Isha word op Kersdag 15 jaar oud en is ‘n tuisskoler wat in graad nege is.

 

© 2024 Die/The Bronberger