Mynhope skets verhaal van kroonjuwele en koedoes Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 24 May 2012 10:40
Untitled Document

Elsabé Maré

Het jy geweet dat ‘n mens die Voortrekkermonument vanaf Cullinan se mynhoop kan sien? Jy kan selfs met die blote oog net-net die Telkom toring in Groenkloof uitmaak.

Daar is ‘n pad bo-op dié mynhoop van 350 miljoen ton en op sy noordelike punt is jy 220 meter bokant die dorp.


Die Cullinan toeristekantoor in Oaklaan

Toere wat mense met ‘n spesiaal-aangepaste 4x4 toertrok na bo neem, wys hoe die ou mynhope gerestoureer is sodat gras en bosse vryelik daarop groei.

Jy sien selfs koedoespore in die los sand, want die koedoes is deel van die myn se private wildsplaas, net wes van die myn.

Toergids, Anton Grobler, verduidelik dat dié myn se geskiedenis oorheers word deur die ontdekking van die 3 106 karaat Cullinan diamant in 1905. Dié diamant is deur Fred Wells, die destydse oopput-bestuurder, met sy knipmes losgewikkel, ongeveer nege meter van die bogrond af.

Die ontdekking het wêreldwyd opslae gemaak. Daar is nege groot diamante en 96 kleiner stene hieruit gesny. Die twee grootstes kan in die kroon en septer van die koningin van Engeland gesien word.


Anton wys ‘n replika van die 3 106 karaat Cullinan diamant

Thomas
Thomas Cullinan, ‘n welgestelde sakeman van die Witwatersrand, se passie vir diamante en sy aanvoeling en kennis waar om daarvoor te soek, het hom na die plaas Elandsfontein geneem waar die vulkaniese pyp ontdek is en die Cullinan diamantmyn ontstaan het.

Hier is reeds in die laat 1800’s spoeldiamante gevind en in 1902 het Thomas dit reggekry om die grond van die Prinsloos, van Willem Prinsloo Landboumuseum-faam, te koop. Die posisie van die kimberlietpyp is toe reeds bevestig en die oopgroef-mynwerke het begin.

In 1903 is McHardy as algemene mynbestuurder aangestel, en werkers het aanvanklik in tente gebly. Later het die myn sinkhuise uit Skotland vir sy werkers bestel, kothuise vir sy senior personeel gebou en ‘n tak van die Nederlandse bank opgerig.


Die eerste mynskagtoring wat in 1903 opgerig is

Petra
In 2008 het die Petra konsortium die myn oorgeneem. Petra beteken ‘harde rots’ en verwys na die ‘gabbro’ intrusiewe gesteente wat horisontaal oor die diamantpyp strek en geen diamante bevat nie.

Petra sink die nuutste skag tot by 832 meter en gaan horisontaal in om op die vlak te kom waar hulle by die kimberliet-erts kan uitkom.

Die myn haal ongeveer 80 000 karaat se diamante per maand uit wat met spesiale skandeerders gesorteer word. Ongeveer 20-25% hiervan is van juweliersgehalte; die res word in nywerhede gebruik.


Herwinning van die mynhope

Monument
Die 1909 koekepanne en die vlakput-uitgrawings is nog by die nommer een skag te siene. Dié skagtoring is in 1903 opgerig en dra dieselfde status as ‘n nasionale monument. Sy staalstrukture is met klinkernaels aanmekaar geheg. Die skaghyser kan twee geel ‘skieps’ (houers waarin die diamantryke erts vervoer word) elke ses minute met 25 ton erts bogronds bring.

Eskom het ‘n spesiale substasie vir die myn opgerig waar ‘n astronomiese hoeveelheid krag gebruik word om die erts met hysers en vervoerbande te skuif.


Die slikdamme van bo gesien

 

© 2024 Die/The Bronberger