Hulle red rondloperkatte Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 25 April 2012 00:47
Untitled Document

Rondloperkatte is goed vir ‘n hoewegebied. As hulle gesteriliseer en ingeënt word, hou hulle ander katte wat sal aanteel weg en beheer hulle peste soos rotte en muise.

Só het wêreldwye navorsingsprojekte bevind, sê die groep vroue wat laasmaand die ‘Whiskers and Tails’ projek in die Zwavelpoort, Shere en Mooiplaats-gebied gestig het.

“Daar is mense wat die katte summier van die gras af wil maak. Hulle besef nie die nut van reggemaakte katte nie en weet nie dat ander katte die plek net sal oorneem en dan van vooraf sal aanteel nie,” sê Petro Anderson, een van ‘Whiskers and Tails’ se stigterslede.

Die eerste rondloperkat is op 26 Maart gevang, en daarna gesteriliseer, ingeënt en weer vrygelaat. Hy is in ‘n goeie kondisie en het die sterilisasie goed hanteer. Daar is tot dusver vier katte gevang, laat steriliseer en terug gesit in die omgewing waar hulle vandaan kom.


Die eerste rondloperkat wat op 26 Maart gevang is, en daarna gesteriliseer, ingeënt en weer vrygelaat is

Die vrouens van ‘Whiskers and Tails’ vang self die katte. Hulle het twee vanghokke wat aan Marcelle van Heerden behoort. Kos en water word in die hok gesit en sodra ‘n kat inbeweeg na agter waar die kos is, gaan die valdeur toe.

Die hokke word nooit oornag gelaat nie. Hulle word opgestel en gemonitor totdat ‘n kat inbeweeg en word dan dadelik veearts toe geneem. Die katte word nie onnodig lank op hok gehou nie, want dit is traumaties vir hulle. Die hokke word ook deeglik skoongemaak na elke vangs.

“Ons is nie professionele katvangers nie,” sê Petro. “Ons doen die werk vrywilliglik omdat ons omgee vir ons katmaters, daarom dat ons ook glad nie die geld hanteer of ‘n organisasie gestig het nie.”

Donasies word direk in die veearts, Faerie Glen Dierekliniek, se rekening geplaas. Die veearts vra net kostes vir die medisyne wat gebruik word. Donasies kan gemaak word by die volgende rekening, wat spesifiek vir dié doel oopgemaak is: Rekeningnaam: Faerie Glen Dierekliniek, rekeningnommer: 51010039646, bank: FNB Lynnwood, takkode: 252045, verwysing: Whiskers & Tail. Die verwysing is baie belangrik, anders word die inbetalings nie vir die projek gebruik nie.

Petro sê dat daar ook vyf mak babakatjies is wat na huisie soek.

Vir meer inligting, kontak Carol by 082-643-8886, Marcelle by 082-775-0161 of Petro by 083-604-0074.

 

© 2024 Die/The Bronberger