Toby, die Metusalem van perde Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 22 March 2012 08:28
Untitled Document

Al ooit gehoor van ‘n ryskool-perd wat 41 jaar oud is? Die meeste hardwerkende perde is gelukkig om 20 te sien en perde wat goed versorg word kan 25 tot 30 jaar haal.

Debbie Erleigh het geweet Toby is nie vandag se kind nie toe sy hom so agt jaar gelede ontmoet het. Min kon sy raai dat dié wit reun ouer sal word as enige ander perd waarvan sy nog gehoor het.

Dit is eers nadat Debbie met Toby se eerste eienaar, Marcel Naudé, kontak gemaak het, dat sy besef het dié perd is vanjaar 41. Marcel het in Januarie spesiaal na Debbie se stalle, Silva Pegasus, in Boschkop gegaan toe hy hoor dat Toby nog lewe.


Die 41-jarige Toby by sy Boschkop-blyplek

Ryskool
Debbie het vir Toby as ryskool-perd ontmoet toe sy en haar vennoot, Inge Wagner, se perde by Gerhard Bredenkamp se Oryx-perdeplek langs Garstfonteinweg-verlenging gebly het. Toby was ‘n getroue Oryx-ryskoolperd, maar het elke nou en dan kruppel geloop wat Gerhard moedeloos gemaak het.

Toby was 34 jaar oud toe hy daar in ‘n draad vasgesit het en ‘n erge beenbesering opgedoen het. Debbie sê die veearts het nie baie moed gehad dat Toby sal regkom nie, en dit is toe dat Debbie vir Gerhard gevra het of sy Toby se sorg kan oorneem.


Debbie kruip agter Toby weg en sê die storie gaan oor haar perd en nie oor haar nie

“Daar was net iets spesiaals aan hierdie perd en ons het ‘n baie hegte band opgebou toe ek sy beserings versorg het,” sê Debbie.

Debbie is in Junie 2007 by Oryx weg, en het vir Gerhard gevra of sy vir Toby kan saamvat. Dit was seker moeilik om te glo dat iemand so ‘n ou perd wil hê, maar daar was nie ‘n manier wat Debbie vir Toby kon agterlaat nie.


Toby so ses jaar gelede by ?n opleidingskou

Werk
Debbie het tot verlede jaar nog een keer elke twee weke vir Toby in haar ryskool laat ‘werk’. Oor die jare het hy generasies kinders leer ry en spring. Sy sê dat sy later net die kleinste kinderlyfies op Toby gesit het sodat hy kon voel hy doen iets.

Blykbaar raak Toby depressief as hy nie nuttig voel nie. Volgens Debbie is Toby ‘n ‘geneser’ en sy sit hom by ander siek diere om hulle te laat beter voel. Hy laat haar selfs beter voel as iets met haar fout is, sê Debbie.


Inge Wagner, Debbie se vennoot, toe hulle nog by Oryx was, voor Toby aan Debbie behoort het. Hulle het hom vol pienk room gesmeer om die vlieë van hom af te hou

Debbie het deesdae nie meer ‘n tydgenoot vir Toby nie. Hy het eers saam met Wilmut, ‘n Boerperd/Percheron kruising geloop en Toby was vir ‘n lang ruk mismoedig toe Wilmut dood is. Daarna het Toby nog ‘n maat, Lang Karel Flambojant, verloor en loop deesdae saam met twee jonger perde.

“Toby is ‘n ‘Duracell’ perd,” sê Debbie. “Hy gaan net aan en aan.” Hy het al baie beserings oorleef en die onlangste daarvan is toe Debbie se hings, Padanto, hom aangeval het. Tog herstel Toby elke keer van die ernstigste wonde.


Toby by ?n skou wat op 3 September 2005 by Oryx gehou is

Tande
Toby kry spesiale kos, want hy het groot probleme met sy tande. Hy het aan die regterkant boonste tande, maar niks onder nie en aan die linkerkant onderste tande, maar niks bo nie. Hy hou ook nie van nat kos nie en as Debbie sy kos geweek het, moet sy eers van die ekstra water ontslae raak voor sy dit vir hom gee. Oor die jare het Debbie eksperimenteer met kos-kombinasies wat die beste vir Toby werk en dink sy het nou presies die regte kombinasie van voedselaanvullings.


Toby se wonde nadat Debbie se hings, Padanto, hom aangeval het

Maar nie een van dié dinge is die geheim van Toby se hoë ouderdom nie, sê Debbie. Sy glo dat baie liefde en aandag natuurlik bydra, maar sy vermoed dat Toby vir haar hier bly. Hy weet dat sy nog lank nie gereed is om sonder hom te wees nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger