Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 22 March 2012 07:54
Untitled Document

Theuns Verster van Die Wilgers is ’n afgetrede elektriese ingenieur. Sy skrywe vloei voort uit ondersoekwerk wat hy vir huishoudings in die ooste van Pretoria, ook in Shere en Zwavelpoort, oor die laaste drie jaar gedoen het. Hy wys hoeveel meer lonend en makliker dit vir gewone mense kan wees om op elektrisiteit te bespaar, eerder as kos, brandstof, klere, of ander lewensmiddele.

Theuns Verster

Wanneer ‘n mens met Lynnwoodweg uit Pretoria en deur die meer landelike tuisland van Die Bronberger ry, is die oorhoofse kraglyne opmerklik, met al die plotte, plase, skole en klein besighede wat met naelstringe daarvandaan met lewegewende energie gevoer word.

Almal is grootliks afhanklik van dié bron, maar voel ook baie blootgestel aan moontlike kragonderbrekings, skerp stygende tariewe, die betroubaarheid van meterlesings en onrealistiese rekeninge.

Meterlesing:
Onakkurate meters is gewoonlik ‘n uitsondering; die menslike faktor is omtrent altyd verantwoordelik vir ‘n foutiewe syfer op die rekeningstaat. Aparte erwe of plotte ervaar ongereelde besoeke van Tshwane meterlesers en gevolglik word geskatte lesings op rekenings geplaas. Omtrent al die probleme ontstaan in die kantoor tussen die meterrekords- en rekeninge-afdeling.

Dit is sterk aan te bevele om maandeliks jou eie meterlesing te neem en op die regte datum in te stuur, verkieslik deur e-pos, maar ook faks. Om in te bel, kan baie frustrerend wees. Die ervaring is dat lesings per e-pos betroubaar op state oorgedra word en min of geen probleme tot gevolg het. Die logboek tuis sal onontbeerlik wees in geval van enige toekomstige dispuut.

Desperate gebruikers kan ook as 'n laaste uitweg oorskakel na 'n voorafbetaal meter, as hulle bereid is om die installasiekoste van meer as R2 000 te dra.

Verbruik
Ongelukkig het daar van die begin van die elektrisiteitskrisis in 2008 fragmenteerde inligting by die huishoudelike eindverbruiker uitgekom oor wat hy moet doen, en hoeveel besparing dit tot gevolg sal hê. Om effektief te bespaar, is dit nodig om uit te vind wat die gebruikspatroon van jou huishouding is, en dan sistematies van bo af te begin. 

In ‘n Pretoriase ondersoek is gevind dat die gebruik van elektrisiteit in 50 huishoudings (meenthuise, konvensionele woonhuise en plotte) elk sy eie patroon het, maar dat in alle gevalle 'n besparing van meer as 10% ingestel kon word, in sommige gevalle selfs meer as 30%, sonder wesentlike uitgawes. Deur uitgawes aan te gaan om sommige apparate te vervang, kan baie meer gespaar word.

Hier volg drie voorbeelde ter illustrasie:

Ligte
Vyftig standaard versonke plafonliggies, wat gemiddeld vier ure per dag brand, kan met ekwivalente LED ligte vervang word teen 'n koste van R8 500. Die elektrisiteitsbesparing van 260 kWu/mnd sorg dat die aanvangskoste binne 22 maande verhaal word.

Warm water
'n Son-waterverhittingstelsel wat R10 000 kos, spaar 'n gesin van drie persone 330 kWu/mnd, wat die aankoopkoste binne 21 maande delg.

Swembad
As 'n 1.1 kW filtreerpomp-motor wat 16 ure per dag loop met 'n multi-spoed pomp vervang word wat die meeste van die tyd op 300 W gestel kan word, sal die vervangingskoste van R5 000 binne agt maande uitgewis word uit die reuse-kragbesparing van 575 kWu/mnd.

Die meeste huishoudelike besparings word egter deur kombinasie van 'n paar meer beskeie faktore bereik. 

Besparing
Die tempo waarteen die elektrisiteitstarief styg is so hoog dat as daar ‘n vaste aantal kWu van die maandelikse verbruik gespaar word, die finansiële waarde daarvan baie vinniger groei as wat enige bankrekening kan bied.

Al neem dit amper twee jaar om 'n son-verwarmingstelsel af te betaal, bou die geldelike besparing na vier jaar op tot R23 000. Selfs 'n klein item soos 'n tydskakelaar wat slegs R500 kos, bou oor dieselfde vier jaar 'n besparing van R6 000 op.

Daar is nie op enige ander gebied van huishoudelike uitgawes, hetsy brandstof, voedsel, klere of behuising, naasteby dieselfde waarde in besparing nie, en boonop is daar geen selfopoffering ter sprake in dié soort elektrisiteitsbesparing nie.
 

© 2024 Die/The Bronberger