Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 14 December 2011 08:33
Untitled Document

Dit lyk nie of peperduur petrol en die algemene geldknyp in die land dié jaar in die pad van Bronbergers se vakansie- en Kersplanne gaan staan nie. Die meeste mense van die kontrei waarmee ons gepraat het, beplan om iewers te gaan uitspan en almal het planne vir ‘n spesiale Kersfees.

Erika van de Venter van Cullinan sê sy en haar man het besluit om hierdie jaar iewers te gaan vakansie hou waar hulle nog nie was nie. Hulle het eers Mosambiek oorweeg, maar die keuse het uiteindelik op St Lucia aan die Noordkus van KwaZulu Natal geval. Hulle gaan Kersdag by die see wees en Erika beoog om iets spesiaals vir die groot Kersete voor te berei.

Erika van de Venter

Nico Breytenbach van Boschkop sê hy ry nie hierdie jaar baie lank nie, maar hy ry nogal redelik ver. Nico en sy vrou, Lynette, gaan oor Kersfees vir ‘n week Kaap toe waar hulle die vieringe saam met familie gaan geniet. Hy wil op pad Kaap toe twee nagte oorslaap en ‘n roete volg wat hy nie ken nie, sê Nico. Die Kersete word by Lynette se suster gehou en dat daar behoorlik ge-eet en ordentlike Kaapse wyn geniet sal word, is ‘n uitgemaakte saak.

Nico Breytenbach

Jennifer Ferreira van Rietfontein naby Rayton sê sy gaan nie eintlik weg nie, maar die vakansie- en Kerstyd gaan nogtans vir haar baie spesiaal wees. Jennifer se tweeling van drie jaar oud gaan saam met oupa en ouma see toe terwyl Jennifer druk besig sal wees met die reëlings van ‘n Kersboom vir behoeftiger kindertjies van die omgewing. Die Kersboom word elke jaar by Die Hoek gehou. Op Kersdag gaan sy saam met vriende na ‘n vakansie-oord naby Cullinan vir ‘n kuier en braai.

Jennifer Ferreira

Jan Potgieter van Mooiplaats doen vanjaar die reisgedeelte van die vakansie behoorlik. Jan het in die middel van November reeds op sy ‘epiese’ tog vertrek en beplan om eers teen 20 Januarie huis toe te kom. Volgens Jan was dié vakansietoer deel van sy ‘bucket list’ en het hy begin deur Clarens en die Oos-Vrystaat te besoek. Daarna is hy met ‘n wye draai tot by die Wildekus en vandaar gaan hy Knysna se wêreld toe waar hy Kersdag sal wees. Voor hy weer terug keer Bronberg toe gaan hy onder meer Sutherland en die Karoo ‘doen’.

Jan Potgieter

Sonia Forssman van Hazeldean se werkverpligtinge verhinder haar om voor Kersfees weg te gaan. Kersdag sal sy doenig wees met die spesiale Kersete by Bronberg Wynlandgoed waar Sonia die bestuurder is. Daarna is sy af tot op 3 Januarie, maar sy dink nie dis die moeite werd om vir só ‘n kort rukkie weg te gaan nie. Daarom sal sy maar rustig by die huis ontspan. ‘Home alone’ vir haar, sê Sonja. Haar weggaanvakansie sal sy later in die jaar probeer inwerk.

Sonia Forssman

Pine Papenfus en sy vrou Anna van Zwavelpoort gaan nie dié vakansieseisoen weg nie, maar ‘jy moet nou nie dink dit gaan ons enigsins geld spaar nie,’ sê Pine. Hulle gaan ‘n oog oor die besigheid hou terwyl vennoot by die Blyfontein Kwekery, Dirk Marais, se seun en sy gesin uit Nieu Seeland kom kuier en hulle ‘n bietjie ‘bos’ toe gaan. Pine sê die kinders en kleinkinders kom kuier en hulle sien regtig daarna uit. Volgens Pine sal daar goed ge-eet en gekuier word op sy hoewe dié vakansie.

Pine Papenfus

Wilhelm Bezuidenhout van Klipkop sê hy gaan eers die eerste week in Januarie ‘n bietjie weg. Dan gaan hy en sy vrou Petro by hulle twee kinders wat in die Kaap woon, kuier. Dit is eintlik vir hom erg om te dink hy moet sy slaghuis ‘n hele week toemaak, maar hy sien uit daarna om die kinders weer te sien. Kersdag sal die oorblywende kinders, wat hier in die noorde bly, seker by hom en Petro op Klipkop deurbring. Die Kersete sal waarskynlik hoofsaaklik kouevleis en slaaie wees.

Wilhelm Bezuidenhout

Esperance Grobler van Wapadrand sê hulle gesin sal waarskynlik ná Kersfees iewers heen gaan, maar haar man Johannes beplan nie sommer ‘n vakansie ‘so lank voor die tyd nie’. Dit is gewoonlik vir hom net so ‘n groot raaisel en verrassing as vir my en die kinders, sê Esperance. Soos dit die afgelope jare die geval was, sal Esperance, wat ‘n professionele sanger en musikant is, weer vanjaar iewers by ‘n Kersete optree.

Esperance Grobler

Johan Brink van Faerie Glen sê hy gaan eers ná Nuwejaar weg. Johan sê hy laat nie graag sy huis alleen oor die Kerstyd se feesdae nie. Ná Nuwejaar sit hy af Stellenbosch toe waar hy twee familiefeeste gaan bywoon. Die een is die troue van ‘n niggie en die ander is sy eie mylpaalverjaardag. Verlede jaar het hy saam met ‘n goeie vriendin uit Kanada deur die land gereis, maar vanjaar skaal hy ‘n bietjie af. Kersdag sal iets seker saam met die ‘uitgebreide’ familie hier bo gedoen word, sê Johan.

Johan Brink

Karin van der Walt van Bashewa en haar man Dirk bly vanjaar by die huis, maar haar seun, Rowen en sy groot maat Donavan, gaan die tradisionele matriekopskop in Margate doen. Karin sê sy gaan soos met vorige jare ‘n spesiale skaapbraai hou vir vriende wat in die ‘afskeeptyd’ verjaar. ‘n Hele paar mense van die omgewing verjaar op 26 Desember en sy doen die afgelope drie jaar iets om hulle verjaardae ook spesiaal te maak. Hulle sit ‘n skaap op die spit, die mense bring ‘n slaai of iets en dan word daar behoorlik gekuier.

Karin van der Walt

 

© 2024 Die/The Bronberger