Drie-been-brakkie help om die ja-woord te kry Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 17 November 2011 08:08
Untitled Document

Grits, ‘n hawelose drie-been hond, weet presies hoe om die ja-woord te kry. Danksy die verloofring om sy nek, het dié bejaarde hondjie verseker dat sy twee gunsteling mense trou aan mekaar sweer sodat hulle vir hom ‘n huis kan bied.

Stiaan Nieuwoudt en Yolandi Nel is twee vrywilliger-werkers by Wet Nose Diere-reddingsentrum. Hulle is mal oor diere, maar dit is Grits, die 11-jarige Jack Russel kruising, wat hulle harte gesteel het.


Stiaan hou vir Grits, met die ring wat aan die pienk strik om sy nek gebind is, vas

Wat ‘n gawe manier om Yolandi te vra om met hom te trou, deur Grits as hofknapie in te span, het Stiaan gedink. Hy het die Wet Nose personeel voor die tyd gebel en vertel van sy plan.

Die Saterdagoggend toe hy en Yolandi by die diere-reddingsentrum aankom, het Stiaan skelm die ring vir Cheryl, die ontvangsdame, gegee. Sy het die ring aan ‘n pienk strik om Grits se nek vasgemaak.

Toe Yolandi buite op die grasperk was, het Stiaan vir Grits gaan haal. Hy het die hondjie opgetel en plegtig aan Yolandi oorhandig. Sy het natuurlik dadelik die blink ring aan die strik gesien en uitgebars in trane toe Stiaan op sy knieë gaan om die ja-woord te vra. Die ‘ja’ het dadelik deur die trane gekom.
Stiaan en Yolandi gaan Grits aanneem sodra hulle ‘n huis met ‘n tuin kry waarin hy kan rondsnuffel.


Yolandi in trane van blydskap toe sy die ring om Grits se nek sien

Grits het in 2006 by Wet Nose beland toe hy saam met drie ander Jack Russels aangebring is deur ‘n buurvrou wat gesê het dat Grits-hulle se mense nie finansieel in staat is om na hulle te kyk nie.

Grits het ‘n gebreekte been gehad. Blykbaar het ‘n voertuig hom maande gelede raakgery, maar die mense het nie geld gehad om hom na ‘n veearts te neem nie.

By Wet Nose is Grits veearts toe gevat, X-strale is geneem en Grits se been moes afgesit word. Ná sy operasie het hy die reddingsentrum se kantoorhondjie geword, maar is later aangeneem.

Ongelukkig het Grits se nuwe tuiste nie uitgewerk nie omdat die mense se ander honde nie met hom oor die weg gekom het nie. Dit is hoe Grits terug by Wet Nose beland het en sy pos as kantoorhondjie hervat het.


Stiaan en Grits vra vir Yolandi die ja-woord in ridder-styl

Veronica van der Merwe van Wet Nose sê hulle is bly dat Grits uiteindelik sy eie huis gaan kry, maar dat die afskeid van die sentrum se geliefde kantoorhondjie ‘n groot tranedal gaan afgee.

Wet Nose is op plot 75, Vaalbank, op die Ou Bronkhorstspruitpad ongeveer 6 km vanaf die vierrigting stop by dié pad se kruising met die Rayton/Cullinan pad. Kontak hulle by 013-932-3941/2 of 082-337-6326.

 

© 2024 Die/The Bronberger