?n Blik op die Springbokke se September-babas Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 22 September 2011 11:40
Untitled Document

Die Bronnie se negende verjaarmaand val saam met die begin van die sewende rugby wêreldbeker-toernooi in Nieu-Zeeland. Ons het gaan delf in die hede en verlede en vertel hier die een en ander oor nege Springbokke wat saam met ons in September verjaar. Net twee uit die huidige toergroep na die land van die silver varing is September babas.

Bakkies Botha

Bakkies (John Phillip) Botha is op 22 September 1979 in Newcastle, Natal gebore, waar hy op laerskool as skrumskakel begin rugby speel het. Hy het vir die tegniese hoërskole op Middelburg en later Vereeniging gespeel en twee jaar by die Valke deurgebring voor hy ‘n Blou Bul geword het.

Die Springbokke se wedstryd teen Namibië by vanjaar se wêreldbeker is op Bakkies se verjaardag. By die wêreldbeker van 2007 het hy op sy verjaardag teen Tonga in Frankryk uitgedraf. Die Bokke het dié wedstryd naelskraap met 30 – 25 gewen.

Bakkies is bekend as een van die ‘hardste’ en ongenaakbaarste manne in internasionale rugby en het al in 75 toetse vir Suid-Afrika as slot uitgedraf. Tog word hy deur sy vrou, Carien, as ‘n rustige, saggeaarde ou beskryf. Die egpaar en hulle drie kinders woon in die noorde van Pretoria. Dit is sy droom om ná sy rugbyloopbaan saam met sy gesin op hulle bosveldplaas te bly. As hy in die aand op sy stoep sit, wil hy net een liggie in die verte sien, sê Bakkies.

Toe hy op ‘n keer gevra is wat hy sal doen as hy skielik ‘n groot klomp geld kry, het Bakkies gesê hy sal ‘n rehabilitasiesentrum vir diere oopmaak.

Hy is ‘n toegewyde Christen wat voor elke wedstryd op die veld op sy knieë gaan. Van sy spanmaats meen Bakkies vra vergifnis vir die skade wat hy binnekort aan sy teenstanders gaan aanrig, maar die ou grote sê hy sê dankie vir die talent om vir die Bokke en die Bulle te kan speel en belowe om sy heel beste te gee.

Bakkies Botha het ‘n kontrak geteken om ná die wêreldbeker-toernooi vir die Franse klub, Toulouse, te gaan speel.

Chiliboy Ralapelle

Chiliboy (Mahlatse) Ralapelle is op 11 September 1986 in Tzaneen gebore, maar is eintlik ‘n Hoedspruiter van oorsprong. Sy ouers woon steeds op Hoedspruit. Sy geboortedorp word telkens as Tzaneen opgegee, bloot omdat Hoedspruit nie ‘n hospitaal het nie. Hy was ook op Hoedspruit in die laerskool.

Sy oupa het hom kleintyd die bynaam van Chiliboy gegee. Soos sy Springbokkaptein en mede haker, John Smit, was Chilliboy ‘n Limpopo-seun wat Pretoria Boys High toe gestuur is.
Hy is reeds 20 keer vir die Springbokke gekies, maar het in net twee toetse nie op die bank begin nie.

Tog word Chiliboy gesien as ‘n sterk aanspraakmaker op die kapteinskap van die Bokke. Hy was kaptein van die suksesvolle Suid-Afrikaanse O/19 en O/21 spanne in 2005 en het die volgende jaar sy buiging as 19-jarige vir die Blou Bulle en die Springbokke gemaak.

Os du Randt

Os (Jacobus Petrus) du Randt (sy vrou noem hom Pieter) is op 8 September 1972 op Elliot in Oos-Kaapland gebore. Hy het op Adelaide skoolgegaan en het in 1994 die eerste keer op loskopstut vir die Springbokke uitgedraf. Os het grootliks vir die Vrystaat provinsiale rugby gespeel, maar het een seisoen (2000) by die Blou Bulle deurgebring.  Hy is tot op hede die enigste Springbok wat twee wêreldbekers, 1995 en 2007, gewen het.

Os is ook die stut wat die meeste toetse (80) vir die Bokke gespeel het. Sy laaste toets was in die eindstryd teen Engeland met die 2007 wêreldbeker. Hy was toe 35 jaar oud. Os word in baie kringe beskou as die heel beste loskopstut uit rugby se sogenaamde professionele era.

Os is ‘n boer en is betrokke by Vrystaat-rugby as skrumafrigter. Hy sou deel van die Springbokke se afrigtingspan vir vanjaar se wêreldbeker gewees het, maar is onverwags as ‘skrumdokter’ weggelaat, nadat hy glo op die toer na Europa en Brittanje aan die einde van 2010 saam met hulpafrigters, Dick Muir en Percy Montgomery en jong losskakel Elton Jantjies in ‘n kwaai kuiersessie betrokke geraak het.

Adolf Malan

Adolf Weich Malan is op 6 September 1961 in Germiston gebore. Adolf het in Pietersburg skoolgegaan en ná skool regte by Tuks in Pretoria kom studeer. Hy het 159 wedstryde as slot vir Noord-Transvaal uitgedraf en het in 1989 en 1991 in sewe toetse vir die Springbokke gespeel. Hy was ‘n lenige slot (6 vt 8 dm) wat veral bekend was vir sy uitstekende lynstaanwerk.

Adolf en sy vrou Heidie, ‘n nooi Wilkens, woon in die Bronberg-gebied. Heidie is ‘n niggie van Rudolf Straeuli wat ‘n lid was van die Springbokspan wat die wêreldbeker in 1995 gewen het.

Peter Whipp

Peter John Milton Whipp is op 22 September 1950 in Oos Londen gebore. Hy het by die bekende Kaapse rugbyskool, Bishops, skoolgegaan en het later vir Villagers en WP binnesenter gespeel.

Peter het in agt toetse vir die Springbokke gespeel voor hy weens ‘n ernstige besering moes ophou met rugby. Die eerste twee toetse teen die legendariese Britse Leeus van Willie John MacBride van 1974 was hy aan die verloorkant, maar die volgende ses toetse, waarvan drie teen die All Blacks, het die Bokke gewen.

Doc Danie Craven het Peter Whipp hoog aangeslaan as ‘n senter met merkwaardige vaartversnelling wat ‘n situasie vinnig kon opsom.

Hannes Marais

Hannes (Johannes Frederick Klopper) Marais is op 21 September 1941 in Somerset Oos gebore en het Gill College op dié Karoodorp bygewoon. Hy het op Maties gaan studeer waar Doc Craven hom aangespoor het om sy posisie as flank te verruil vir dié van stut.

Hannes het tussen 1963 en 1973 in 35 toetse vir die Springbokke as vaskop voorryman gespeel. In sy laaste elf toetse was hy kaptein.

Hannes is ‘n Springbok-keurder en het ‘n intense belangstelling in antieke meubels en werktuie uit die Steentydperk.

Johan Claassen

Johan (Johannes Theodorus) Claassen is op 23 September 1929 in Prins Albert gebore. Hy het skool gegaan op Christiana en vir Wes-Transvaal se provinsiale span uitgedraf. Hy was later professor by die Potchefstroomse Universiteit (PUK).

Johan Claassen het tussen 1955 en 1962 in 28 toetse, waarvan nege as kaptein, vir sy land gespeel. Hy was ‘n slot en die kaptein van die Springbokspan wat in 1962 die reeks teen die Britse Leeus met drie toetse teen nul (een gelykop) gewen het.

Hy het later ‘n Springbokkeurder geword en was nou betrokke by Wes-Transvaal se rugby.

Tjol Lategan

Tjol Lategan en vriend Ryk van Schoor in later jare

Tjol (Marthinus Theunis) Lategan is op 29 September 1925 op Stellenbosch gebore. Hy was in die Paul Roos Gimnasium en het op Maties gestudeer waar hy deur Doc Craven ‘ontdek’ is.

Tjol het tussen 1949 en 1953 in elf toetse as senter vir die Springbokke uitgedraf. Saam met sy sentermaat en lewenslange vriend, Ryk van Schoor, het hulle ‘n kombinasie gevorm wat sommige kenners nog beskou as die beste ooit in Springbokrugby.

Hy was deel van die legendariese toerspan van Hennie Muller wat Skotland in 1951 met 44-0 op Murrayfield gewen het en skoonskip van al vyf  nasies gemaak het. Tjol het op daardie toer van 1951/52 in 20 toerwedstryde gespeel.

Hy was net in sy heel laaste toets teen Australië aan die verloorkant.


Tjol en Ryk, die gevreesde senterpaar

Fanie Louw

Fanie (Stephanus Cornelius) Louw is op 16 September 1909 in Paarl gebore. Fanie was die jonger broer van die Springbok-legende, Boy Louw. Die broers het op skool saam vir Paarl Boys High, oftewel ‘Boishaai’, rugby gespeel en was bekend as platjies wat heerlik kon spot met hulle gebrekkige Engels.

Fanie het vir WP gespeel voor hy in Johannesburg as myner gaan werk het en toe kaptein van Transvaal geword het. Hy was baie lig vir ‘n voorryman en het slegs 88 kg geweeg, maar was so sterk soos ‘n bees en het vir geen duiwel gestuit nie.

Fanie het tussen 1933 en 1938 in twaalf toetse vir die Springbokke gespeel. Hy was ‘n vaskopstut hoewel hy een toets as flank uitgedraf het.

Volgens sy groot vriend en kamermaat op toer, Doc Craven, was Fanie ‘n joviale ou wat gewild was onder sy mede spelers en altyd gereed was vir kattekwaad. Hy was ‘n vreeslose man.

Craven het vertel dat Fanie gereeld kwaai rugpyn gekry het en dit toegeskryf het aan die werk wat hy ondergronds in die myn gedoen het. Die pyn was soms só erg dat hy daarvan opgegooi het, maar dit het hom nie gekeer om in die voorry te sak teen veel groter spelers as hy nie.

Drie jaar ná die toer van 1937 was Doc Craven vir ‘n wedstryd van die WP teen Transvaal in Johannesburg. Fanie was Transvaal se kaptein. Craven het vertel dat hy halftyd met Gerry Brand gestaan en gesels het toe hy skielik voel iemand byt hom van agter aan die oor. Hy het dadelik geweet dit is sy vriend Fanie.

Fanie het vertel dat hy griep het en glad nie lekker voel nie. Hy moet seker eintlik nie speel nie, maar hy sal maar die wedstryd deursien, het Fanie gesê. Toe Doc Craven ná die wedstryd in sy hotelkamer kom was hy geskok om oor die radio gehoor dat Fanie Louw beswyk het. ‘n Ondersoek het getoon dat Fanie ‘n erg vernoude aorta en net een nier gehad het. Hy was 30 jaar oud.

Sedert die eerste Springbokspan is altesaam 52 Bokke in September gebore. Van hulle is: Bill Bisset in 1867, Dean Hall in 1977, Danie Coetzee in 1977, Willie du Plessis in 1955, Daan du Plessis in 1948, Ashwin Willemse in 1981, Lucas Strachen in 1907, Hennie Bekker in 1958, Percy Twentyman-Jones in 1876, Scraps Wessels in 1874, Chris Roussouw in 1969, Dawie Theron in 1966, Cocky Brooks in 1881, Hasie Versveld in 1866, Henno Mentz in 1979, Braam van Straten in 1971, en Chris Pope in 1952.

 

© 2024 Die/The Bronberger