Ons onthou nege groot gebeurtenisse uit ons negende jaar Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 22 September 2011 10:52
Untitled Document

In ons kontrei word feeste, markte en pretdae gereeld op ‘n groot skaal gehou. Hier kyk ons na net nege van dié gebeurtenisse uit die afgelope jaar – van ‘n avontuurkamp se vasbyt tot ‘n vliegdag en viertrek feesdag, van ‘n boeredag en ‘n maplotterfees tot mampoerproe, van ‘n Kersmark tot ‘n gemeenskap-pretdag en ‘n fees wat spog: “Ons gat is die grootste”.

Eerste gemeenskap-pretdag

Die heel eerste Conserv-gemeenskap-pretdag is op 28 Augustus verlede jaar op Mooiplaats gehou. In September 2010 berig ons dat 800 mense dié dag, wat binne sewe weke gereël is om geld vir die Mooiplaats, Zwavelpoort en Tierpoort (MZT) Conserv-gemeenskap in te samel, bygewoon het. Daar was ’n verskeidenheid markstalletjies, ’n teetuin, ‘strandkroeg’, speelpark, skyfskiet, helikopter ritte, arena opvoerings en groot-skerm rugby. Vanjaar word die MZT Pretdag op 29 Oktober gehou.

Vasbyt, vlaghys en varkpan

In Oktober 2010 berig ons dat 66 kinders en 28 volwassenes op Henry en Eva Kirstein se Mooiplaats-plot gekamp het om veld- en oorlewingsvaardighede aan te leer en teen mekaar te kompeteer. Dié ‘boot camp’ naweek is van 1 tot 3 Oktober vir seuns en meisies tussen die ouderdomme van sewe en 13 jaar gehou. Dié naweek het alles punte getel en daar is met alles meegeding – van nagmars, kamoeflering, hindernisroetes, parades, inspeksies en teikenskiet.

Viertrek feesdag

In November verlede jaar berig ons dat hindernisse soos sand, water, klippe, diep gate en selfs ’n berg en sproeiwater op Laerskool Rayton se 4x4 Feesdag getrotseer is. Jy kon kamp opslaan en snuisterye by die vlooimark koop. Motoruitstallings, ’n biertuin, swembad en springkastele het vir verdere vermaak gesorg terwyl die spanne die hindernisse aangepak en hulle vernuf gewys het.

Vliegdag in die son

Die son was genadeloos op 6 November by die Boschkop-gebaseerde Kitty Hawk se ‘A Day at the Airport’, berig ons in November 2010. Sowat 50 vliegtuie het aan dié dag deelgeneem en kinders van verskeie kinderhuise het met groot opgewondenheid die vliegritte meegemaak.

Boeredag lok skares

Die tiende Landboukorrels Boeredag is op Vrydag 29 en Saterdag 30 Oktober by die Cullinan Boere-unieterrein gehou. In November 2010 berig ons dat dié twee dae, aangebied deur Radio Pretoria en TLU SA, bestaan het uit ’n kleinvee-kursus, veiling, landboudemonstrasies, vermaak, stalletjies, ossewaritte en boeresport.

Handgemaakte Kersmark

In Desember laasjaar vertel ons dat meer as 300 uitstallers deelgeneem het aan die Nickel Kersmark by Paul Jungnickelhuis in Zwavelpoort. Handgemaakte geskenke deur gestremdes en mense van werkskeppingsprojekte was te koop. Vanjaar se mark is van 25 November tot 11 Desember.

Groot Gat Fees

Cullinan kry sy Groot Gat Fees in rat, berig ons in April vanjaar. Dié vier-dag fees is oor die langnaweek in Maart gehou en het besoekers van dwars oor die land getrek. Daar was ‘n verskeidenheid musiek-vertonings, opvoerings, ‘n speelpark vir die kinders, ‘n biertent en kostente en vlooimarkstalletjies. ‘n Groot Gat Godin en Mej Cullinan Diamant is gekies.

Eerste Maplotterfees

In Mei berig ons dat Cullinan sy eerste Maplotter fees op 2 Mei by die stasie gehou het. Die tema was alles wat met maplotterwees gepaard gaan en daar was ’n aantal kompetisies soos die beste maplotterstorie of -gedig, die lelikste hond, ’n potjiekoskompetisie en natuurlik is ’n ma-plotter, pa-plotter, sus-plotter en boet-plotter gekies.

Mampoerfees

In Junie vertel ons lesers van die Mampoerfees, waar Suid-Afrika se top mampoerstokers op 4 Junie by die Willem Prinsloo Landboumuseum teen mekaar meegeding het en dat besoekers na hartelus aan dié mampoer kon proe. Die ATKV het ’n aartappel- en lemoenskilkompetisie en rissie-eet kompetisie gehou, die Ouwerf by Willem Prinsloo se 1880-huis het gespog met demonstrasies, en vele stalletjies het ware te koop aangebied.

 

© 2024 Die/The Bronberger