Klein Tiny het ?n groot plek in Michelle se hart Print E-mail
News - Artikels
Friday, 24 June 2011 14:45
Untitled Document

Tiny is ’n Rietfonteinse konyn wat slegs 4 cm lank was toe hy gebore is. Sy ma het hom verwerp en die 13-jarige Michelle Koekemoer het hom met katmelk grootgemaak.

Ma-konyn het haar kleintjies in Michelle-hulle se perdestalle op plot 46, Rietfontein gekry. Michelle het gesien dat dié klein konyntjie aan die spreekwoordelike agterspeen suip en het besluit om maniere om dié konyntjie se lewe te red op die Internet te gaan opsoek.

En nee, sy het nie een van haar katte gemelk nie. Michelle het gelees dat ’n mens nagemaakte katmelk by ’n troeteldierwinkel kan koop, wat sy toe ook by Pets Pantry by Mooikloof kon raakloop, en het dit vir Tiny uit ’n botteltjie gevoer.


Uit die drieling is Tiny piepklein in vergelyking met sy sussies Angelface, links, en Gesiggie, regs
Foto’s: Sonette Smith

Voer
In die natuur drink konyntjies slegs een maal per dag omdat konynmelk baie ryk aan vette en kilojoules is. Maar omdat Michelle onseker was oor die katmelk se voedingswaarde, het sy Tiny aanvanklik twee maal per dag gevoer.

Tiny het baie stadiger as sy sussies Angelface en Gesiggie gegroei en is vandag, op die ouderdom van sewe weke, omtrent die helfte van Angelface se grootte. ’n Kat het ongelukkig vir Gesiggie gevang. Tiny het ook baie later as die sussies begin gras vreet en kon nie sy linker voorpoot gebruik nie.


Tiny is soveel kleiner as sy sussie Angelface dat hy onder haar kan deurloop

Onderskei
Vandag hop hy nes die ander konyne in die huis rond en kou Michelle se houtmeubels aan flarde die oomblik as hy ’n kans kry.

Die maklikste manier om konyne en hase van mekaar te onderskei is om na die heel kleintjies te kyk. Jong konyne is haarloos, blind en hulpeloos by geboorte. Hase word egter met pelse en oop oë gebore en kan gou begin rondhop.

Jong konyne word vir ’n redelike lang tyd deur die ma gevoer, waar jong hasies kort na geboorte self begin rondbeweeg en kos soek, terwyl hulle ook aan hul moeders drink. Konyne is kleiner as hase en hulle ore is korter. Die grootte en vorm van konyne en hase se kopbene verskil ook.


Michelle Koekemoer het Tiny met katmelk grootgemaak

Vreet
Hase en konyne is snags aktief en rus in die dag. Konyne vreet vrugte en groente tot onkruid, gras, takkies en bas. Hulle is groot vernielers van gesaaides en die bas van vrugtebome. Hase maai gewoonlik nie so erg onder landbougewasse nie en vreet gras en laaggroeiende, kruidagtige plante.

Dié een vreemde dis wat beide hase en konyne vreet, is hulle eie mis. Blykbaar help die bakterieë in die mis om voedsel in die pens te help verteer. Die mis help skynbaar ook om soveel as moontlik koolhidrate en vitamiene uit die beskikbare kos te onttrek.

 

© 2024 Die/The Bronberger