Maak gereed vir die mampoerfees op die plaas Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 19 May 2011 15:39
Untitled Document

Die jaarlikse mampoerfees is op Saterdag 4 Junie van 9 vm tot 5 nm by die Willem Prinsloo Landboumuseum. Die mampoerfees, wat al vir bykans 26 jaar aangebied word, is die hoogtepunt op dié museum en die Kultuurstokergilde van Suid-Afrika se jaarkalender.

Mampoerstokers wat aan dié gilde behoort, kom van dwarsoor die land om aan dié nasionale kampioenskappe deel te neem. Beoordeling geskied volgens nasionaal erkende reëls.

Die Willem Prinsloo Landboumuseum-plaas is langs die ou Bronkhorstspruit-Pretoriapad.


Só sit jy sopies weg by die mampoerfees

Mampoer staan ook bekend as hardehout, tiermelk of vuurwater. Die kenners sê dat mampoer oor mediese en gesondheidsvoordele beskik: suiwer mampoer gemeng met kruie help vir verkoue, griep en koors. As smeermiddel is mampoer goed vir spatare. Meng mampoer met kaneel, neutmuskaat en naeltjies en jy het ’n uitstekende tonikum.

Dit word beweer dat mampoer vernoem is na Mampuru, ’n Bapedi hoofman wat sy half-broer, Sekoe - koenie, laat vermoor het. Mampuru het geweier om hom aan die Transvaal se owerheid te onderwerp en het by die naburige Ndebele stam van Mapoch skuiling gesoek.

President Paul Kruger en Generaal Piet Joubert het teen Mapoch en Mampuru opgetree. Joubert het in Oktober 1882 twee duisend man opgekommandeer en uit beweeg teen die rebelse kapteins. Die kapteins het sterk weerstand gebied, maar teen die winter van 1883 het albei kapteins oorgegee.


Mampuru se teregstelling in 1883 in Pretoria

Beide is verhoor en tot die dood veroordeel, maar Mapoch se vonnis is later versag tot lewenslange tronkstraf. In November 1883 is Mampuru in Pretoria ten aanskoue van mede-gevangenis tereggestel. Dit is sover bekend die enigste openbare teregstelling wat in Pretoria gehou is.

Blykbaar het Generaal Joubert se manne ’n soort drank wat van maroelas gedistilleer is, by Mampuru gekry, dit na hom vernoem en die stokery voortgesit. As dit wel so is, was Mampuru toe geen mamparra nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger