Carlos die kroeguil maak hom tuis by Bull & Bush Print E-mail
News - Artikels
Monday, 21 March 2011 19:35
Untitled Document

As jy ’n koue enetjie in Tierpoort se gewilde kuiergat, Bull & Bush, geniet en jy sien skielik ’n reuse roofvoël met gestrekte vlerke by die deur inswiep, moenie bekommerd wees nie. Jy het nie te veel agter die blad nie.

Die uitgevrete voël wat ’n entjie van jou af op die kroegtoonbank loop sit het en jou nou met groot, ronde, geel oë bekyk, is nie jou persoonlike weergawe van ’n pienk olifant nie. Dit is Carlos, Bull & Bush se inwonende gevlekte ooruil.

Kaalvoet Francois Breytenbach het etlike maande gelede ’n beteuterde uilskuiken onder ’n boom op sy Boskazi-plot opgetel. Die aardige gedoentetjie het duidelik uit sy ouernes geval, of is bes moontlik uitgeskop.

Links sit Carlos heerlik 'n uiltjie en knip langs die ingangsdeur van Bull & Bush. Regs is hy skielik wakker en is sy oë onheilspellend gerig op die skootbrakkies wat verbydraf

Francois het nie ’n benul gehad wat om met die uilskuikentjie te doen nie. Toe onthou hy Karin en Dirk van der Walt van Bull & Bush het papegaaie. Hulle sou sekerlik weet hoe om die netelige probleempie te hanteer.

Francois bel toe vir Karin: "Jy het mos papegaaie. Weet jy wat ’n uil eet?" wou hy weet. "Wel", antwoord Karin, "ek is bevrees hulle eet dalk papegaaie."

Maar sy stem toe in dat hy die wees uiltjie vir hulle kan bring.


Carlos die kroeguil geniet ’n sappige stukkie van Bull & Bush se 'steak'


Hoog en droog sit Bull & Bush se gevlekte ooruil, Carlos, op die paaldak van ’n kuiertafel buite

Hulle sou probeer om hom groot te maak. Karin en Dirk het alles moontlik oor uile uitgevind en begin om vir die geveerde gevaartetjie hans groot te maak. Hulle het hom Carlos gedoop. Karin sê as Carlos die dag ’n eier lê, sal hulle die naam maar na Carlien verander.

Vandag is Carlos ’n uitgevrete voël wat baie tuis is in en om die restaurant en kroeg. Hy kom goed klaar met die klante. Die voorneme was van die begin af om hom uiteindelik sy vryheid te gee sodat hy sy uilding in die natuur kan doen. Carlos kom en gaan soos die luim hom voorskryf.

Waar hy sit en slaap voor die ingangsdeur toe ons opdaag, lyk hy byna ornamenteel - lewensloos.


Carlos hou sy kop om deur aanneempa, Dirk van der Walt, gekrap te word

Die kamera se flits weerkaats van Carlos se oë af waar hy hoog bokant die kroeg op die dakbalke sit

Maar as die Van der Walts se Yorkie skootbrakkies verbydraf, ruk hy sy kop om en staar hy met sy reuse ronde oë stip na hulle. ’n Mens kan amper sien hoe hy sy lippe aflek.

Dirk vertel dat hy elke aand gaan jag. Hy vang in dié stadium veral krieke, motte en ander goggas, maar hy het reeds sy muiskursus met sukses voltooi en sal na verwagting binnekort aanbeweeg na groter prooi.

Hulle verwag dat hy sy huidige kroegnes sal verlaat sodra die paarkoors hom vat. Maar die afskeid sal swaar wees as Carlos moet aanbeweeg, daarom het hulle ’n spesiale broeihok neffens die Bull & Bush staangemaak. Hopelik besluit Carlos, of Carlien dalk, en sy/haar maat om hulle kroos daar groot te maak.

 

© 2024 Die/The Bronberger