Dit gaan goed met Ingwe in wildpark Print E-mail
News - Artikels
Monday, 24 January 2011 06:25
Untitled Document

Ingwe, die Bronberg se ‘rondloperluiperd’, het reeds minstens vier rooibokke platgetrek. Só berig Hencke Marais van die Tshwane-natuurbewaringsafdeling se spesialiteitsdienste oor die drie jaar oue luiperdmannetjie. Die spikkelkat is op 29 Oktober in die Mongena Game Lodge in die Dinokeng-natuurreservaat vrygelaat.

Ingwe is op 14 Oktober gevang nadat hy vier ure lank bo in ’n bloekomboom op Anton Bester se Mooiplaats-plot tussen Korhaanstraat en die Pienaarsrivier, gesit het. Anton se werker, Simon Mamogobo, het die luiperd gewaar. Hencke se hulp is ingeroep en hy en ’n veearts van die Pretoriase Dieretuin het ’n gesamentlike strategie uitgewerk om Ingwe te verdoof. Dit het egter drie verdowingspyle geneem om hom uit die boom te kry en hy het rivier toe begin hardloop voor die verdowingsmiddel hom platgetrek het.


Ingwe, die dag toe hy op Mooiplaats in die
bloekomboom gesit het

Ingwe is in afsondering by die Pretoriase Dieretuin aangehou en moes eers ’n tandoperasie by Onderstepoort ondergaan voor hy vrygelaat is. Sy regterslagtand het gebreek toe hy dwarsdeur sy hok se ystertralies probeer byt het in ’n poging om te ontsnap.

Vandag word Ingwe se bewegings met ’n opsporingshalsband gemonitor. Hencke sê dat die aanpassingsproses goed verloop het en dat Ingwe nie buite die grense van die 18 500-grootte gebied waarin hy kan jag, beweeg nie. Hy is die enigste mannetjie in dié gebied waar luiperdwyfies gereeld gesien word.

Hoekom hy die Zoeloenaam vir luiperd en nie die Ndebele een, ‘nkwe’, gekry het nie, is nie duidelik nie.

Luiperdspore, wat waarskynlik aan Ingwe behoort het, is vir jare rondom die Ndebele ruïnes op die Bronbergrif gesien.

 

© 2024 Die/The Bronberger