Het jy gehoor? / Have you heard? - Nov 2012 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Wednesday, 21 November 2012 07:55
Untitled Document

Ons hoor Rayton het nou sy eie ‘swingers klub’. Blykbaar vind sommige inwoners dit erg walglik en ander is naarstiglik op soek na kontaknommers.

xxx

Lesers wat hulle Bronnies gewoonlik in die pos kry, het lelik ongeduldig begin raak toe die Oktober-uitgawe nie op sy gewone tyd in hulle posbusse beland het nie. Die wekelange vertraging was danksy ‘n staking van Poskantoorwerkers. Die pakke Bronbergers moes maar geduldig in die verskillende Poskantore lê en wag tot die stakers weer begin werk het.

xxx

Dié langbeen foksterriër is op 26 Oktober langs die Zwavelpoort-pad naby Mvubu Lodge gevind. Hy dra ‘n bruin leerhalsband en ‘n oranje vlooihalsband. As hy jou foksie is, bel vir Carol by 082-643-8886.

xxx

Het julle gehoor dat die grondeis op die Boschkop-gebaseerde Kitty Hawk Luglandgoed afgehandel is? Blykbaar het ‘n waardeerder van die staat uitgekom en ‘n prys op die grond, sonder die verbeterings wat aangebring is soos die klub-fasiliteite, vliegtuigloodse en huise, gemaak. Die grondeiser is toe glo 25% van dié prys deur die staat betaal.

xxx

Bronberg Wynlandgoed hou ‘n wyn-en-kosfees op die naweek van 1 en 2 Desember. Daar gaan ‘n verskeidenheid wyn-, brandewyn- en whiskey stalletjies wees asook ‘n biertuin, kosstalletjies en vermaak deur Dewald Wasserfal. Bronberg Wynlandgoed is by die T-aansluiting van die Boschkoppad en Lynnwoodweg-verlenging, ongeveer 5 km oos van Hans Strijdom-rylaan. Vir meer inligting, skakel 076-452-6182.

xxx

Nee, die mense waarna jy soek is nie iewers buite besig om te werk nie, die interkomding is stukkend

xxx

‘n Praatjie oor paddas word op 24 November vanaf 4 nm by Willow Valley Melkplaas in die Cullinan bewarea aangebied. Die praatjie, wat spesiaal vir kinders is, word deur Jaco van Wyk gelewer. Ná die praatjie sal daar ‘n bring en braai wees. Bring jou eie vleis en ander verversings; die bewarea verskaf die vuur en mieliepap. Wanneer die son sak, sal die kinders saam met ‘n ouer en Jaco uitgaan om paddas te vang, te identifiseer en vry te laat. Bring ‘n flits en droë klere vir die kinders saam. Toegang is gratis vir kinders, en R50 per volwassene. RSVP voor 20 November by Joan du Toit: 082-681-5122.

xxx

Die Elandshoek/Nooitgedacht-gemeenskap net buite Rayton se besorgdheid oor die manier waarop Delfsand sy mynaktiwiteite bedryf, was onlangs die onderwerp van ‘n 50/50 televisieprogram. Die gemeenskap voer aan dat die myn ’n geruime tyd betrokke is by verskeie onwettighede, soos onwettige mynbou-aktiwiteite in ’n vleiland en in ’n standhoudende rivier, wateronttrekking uit ’n natuurlike fontein sonder ’n lisensie, en proefskietwerk op ’n kode twee-rif sonder dat ’n geohidrologiese studie vooraf gedoen is. Diegene wat die 50/50 opname oor Delfsand misgeloop het, kan na die uittreksel op die Internet kyk: http://www.youtube.com/watch?v=cj-Fdxb8nxc

xxx

Cullinan se hotel het uiteindelik, na ‘n lang en hartseer afdraande pad, toegemaak. Dié wat weet sê die hotel het toegemaak oor dieselfde rede hoekom driekwart van die winkels in die Cullinan Jewel-sentrum leeg staan. Die huur is onbekostigbaar hoog, sê hulle.

 

© 2024 Die/The Bronberger