Het jy gehoor? / Have you heard? - Sep 2012 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Wednesday, 26 September 2012 00:53
Untitled Document

Het jy gehoor dat die Bronnie se eie Vreethans nou landwyd bekend is? Een van sy resepte is in Die Huisgenoot se nuwe Braai-resepteboek gepubliseer. Huisgenoot het die 100 beste lesersresepte uitgesoek en getoets. (Ek het gedink hy is lankal wêreldwyd bekend – Vreethans)

xxx

Die eerste ‘Het jy gehoor?’ rubriek het in Januarie 2006 in Die Bronberger verskyn. Die heel eerste brokkie wat daarin verskyn het, was as volg: Die Presda-skool in Zwavelpoort het sy deure vir die nuwe skooljaar eers op Maandag 16 Januarie pleks van Woensdag 11 Januarie oopgemaak omdat die paaie weens die kwaai reën te nat was om die skool met veiligheid te bereik. Ons wonder of die kinders baie teleurgesteld was . . .

xxx

Ons kyk terug na ‘n paar sappige brokkies wat oor die jare hulle pad na ‘Het jy gehoor?’ gevind het:

Februarie 2006: En in Bashewa het die modderpaadjies glo die ridders op hulle brulfietse en vierwielfietse in hulle hordes gelok. Groot sports is dit blykbaar om met dié lawaaigoed op die gladde modderpaadjies te ry. Hoe meer modder opgeskop word hoe beter. Die ridder is mos mooi dig toe in sy jaagpakkie en monstermasker. Ons hoor ‘n kleinboer van die omgewing was net mooi gatvol vir die spulletjie wat vlak langs sy huis verby jaag en in die proses sy plotpaadjie genadeloos verrinneweer. Dis toe dat hy een aand varkmis vat en dit vir ‘n aansienlike entjie van sy pad goed in die modder inwerk. En net soos die kleinboer verwag het, is die jaagbrigade daai volgende oggend in al hulle glorie daar verby. Hulle was glo nie baie welkom in die kuierplek waar hulle later vir brekfis stilgehou het nie en is met honger mage inderhaas huis toe om ontslae te raak van die onhoudbare stank wat om hulle en hulle fietse gehang het.

xxx

Oktober 2006: Donkerhoek is nou wel nie Hillbrow of Sunnyside nie, maar inwoners kla dat daar op bykans elke straathoek deesdae ‘n prostituut staan. Blykbaar ‘werk’ die prostitute veral daar waar die Rhenosterfonteinpad by die Ou Bronkhorstspruitpad aansluit. Inwoners berig dat hulle dié prostitute al met sambokke probeer verwilder het en dat hulle die polisie van die bedrywighede in kennis gestel het, maar dat dit lyk of die prostitute daar is om te bly. “Dis ‘n klasieke geval van vraag en aanbod,” sê een omgekrapte plotbewoner. “En jy sal verstom wees oor waar die vraag vandaan kom.”

xxx

April 2007: ‘n Morsjorsige vrou wat haar vullis sommer so in die ry in Lynnwoodweg-verlenging sak vir sak by haar groot viertrekwa uitgesmyt het, het glo byna haar jors weggeskrik toe ‘n sekere rooikop haar van die pad afgedwing en gekonfronteer het. Die verskrikte morsjorsiena het weggejaag, maar nie voor onse rooikop haar registrasienommer gevat het nie. Die saak duur voort.

xxx

Mei 2007: In Donkerhoek moet jy baie mooi dink voor jy met ‘n ander ou se vrou lol. Want hy gaan vir jou (met permissie gesê) bykom. Al moet hy ‘n heel nuwe betekenis aan die woord ‘huismoles’ gee deur met sy bakkie deur jou huis se muur te  jaag.

xxx

Maart 2008: Met ’n kuier by ou Faan se plek anderdag, vertel Issie van dié vriende van hulle. Stoere Afrikanermense was hulle. Weskusmense vir wie Ingels en Ingelse ’n skaars en vreemde verskynsel was. Iets waarvan jy destyds in daai wêreld net gehoor het. Nou, sê Issie, is daar vir dié vriende drie seuntjies gebore. Toe, op ’n mooi dag, gaan haal ma nog ’n baba by die hospitaal en dié keer was dit ’n dogtertjie. Die hele ou gesinnetjie, pa en drie seuntjies, staan en bekyk dié aardigheid toe ma dit die eerste keer by die huis aanbring en soos dit nou maar met babas is, moet die doek toe geruil word. Issie sê die oudste seuntjie het die anderste spulletjie aandagtig aanskou en toe met verbaasde ongeloof op sy gesiggie gevra: “Ma, is dié baba dan Ingels?”

xxx

Augustus 2009: Tutu Wagner het op Maandag 27 Julie laat weet dat ’n vliegtuig amper bo-op haar donkies geval het. Dié een-motorige vliegtuigie was van Kitty Hawk af op pad na Bapsfontein, toe dinge skeefgeloop het en hy op ’n plot oorkant die ou Espada Ranch, nou Betshan, in Tierpoort geval het. Tutu sê dat die vlieënier en passasier sonder ’n skrapie uit die vliegtuigie geklim het. Ons hoor die vlieënier is ’n huurder by Kitty Hawk genaamd Neville Ferreira.

xxx

Februarie 2010: Nog ’n muur in Zwavelpoort het in die slag gebly toe ’n sekere jonge dame vroegoggend vir ’n groepie spelende blouapies in Achillesweg uitgeswaai en dwarsdeur die muur gejaag het. Sy het beheer oor haar motor verloor ná sy in die grondwal langs die varsgeskraapte pad vasgery het. Verlede maand het ’n motoris deur Mooikloof se noordelike muur gery.

xxx

Desember 2010: Die skandes en skades van die Bronberg se mense loop blykbaar volspoed soos die jaar na sy einde toe snel. Skaars het ’n bekende plotbewoner van Zwavelpoort die smeerblad ‘Sondag’ gehaal met sy manewales en bakleiery in ’n plaaslike gay klub, nogal, of ’n Silver Laker beland in die pekel en op die voorblaaie van al die koerante oor sy haar rugbyspelende troetelknapie glo wou laat vermoor. En ons hoor ’n Romeo van Tierpoort wou haastig hakskene wys toe die skoonheid waarby hy gekuier het se wederhelfte onverwags by die huis opdaag. Ongelukkig vir hom jaag hy toe blykbaar in sy koorsagtige haas ’n hoekpaal des dinges. Hy het glo nog gesukkel om die gekweste kar aan die gang te kry, toe manlief om die draai kom . . .

xxx

Junie 2011: Ons hoor ’n onlangse uitstappie per trein van Pretoria na Cullinan het nie heeltemal na wense afgeloop nie. Met die aantog moes die passasiers op Rayton al afklim, omdat boewe weer dwarslêers van die spoor afgesteel het. Die passasiers is in stampvol busse Cullinan toe afgevoer. Met die terugtog het ’n ou wat glo heeltemal te veel gekuier het, dit reggekry om van die trein af te val. Die trein het vir twee ure in die veld gestaan en wag op ’n ambulans om die ‘afvallige’ ou op te laai. Blykbaar het die vrolike treinryer uit volle bors gesing: ‘die Blou Bul eet nie van die grond af nie,’ voor hy hard met moeder aarde kennis gemaak het. Volgens een passasier het almal geduldig probeer bly omdat hulle bekommerd was oor die beseerde ‘afvallige’. Maar hulle simpatie het dadelik verdwyn toe die afgefoeterde kêrel laggend vir hulle waai toe die trein uiteindelik weer wegtrek.

xxx

Februarie 2012: Die geheim van die groot hoeveelheid kookolie wat onlangs in Boardwalk se dam beland het, blyk opgelos te wees. Die vermoede het ontstaan dat die olie van die een of ander restaurant afkomstig sou wees. Dit blyk egter nou of die kookolie uit ‘n watertenk op ‘n Olympus-hoewe ontsnap het. Die hoewe-bewoner herwin glo ou kookolie en stoor dit in twee groot watertenks op die plot. Een van die tenks het ‘ingekonk’ en die olie het met die stormwaterstelsel langs tot in die dam geloop. Dit het glo ‘n aardige bedrag gekos om van die skadelike olie in die dam ontslae te raak.

 

© 2024 Die/The Bronberger