Het jy gehoor? / Have you heard? - Jun 2012 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Monday, 25 June 2012 22:42
Untitled Document

Het jy ook gewonder oor die klomp nuwe ‘leeglêers’ wat skielik oral in Cullinan opgeduik het? Jy sien hulle daagliks tussen ‘Four Ways’ en die myn se hek aan Oaklaan se onderpunt waar hulle oënskynlik doelloos rondstaan en -sit – meestal twee-twee. Wel, hoe moeilik dit mag wees om te glo, hulle is toerisme-gidse, oftewel “tourist guides” van Tshwane Toerisme. ‘n Allemintige 50 van hierdie ‘gidse’ word daagliks ‘ingebus’ en staan daglank enkele meters uitmekaar op straat en dinges pik omdat niemand weet wie en wat hulle is nie en hulle blykbaar nog minder. Ons hoor die span ‘gidse’ het opleiding van ‘n enkele voormiddag agter die blad. Die Bronnie sal volledig hieroor berig in ons volgende uitgawe.  

xxx

Ons hoor dat ‘n groot hoeveelheid onwettige immigrante deur die gereg verwyder word uit die Lethabong informele nedersetting op Donkerhoek gedeeltes drie en vier. Hoewebewoners in dié omgewing vrees dat die immigrante nie ver van Lethabong af plakkershutte gaan opslaan nie.

xxx

Die sperdatum om ‘n permit vir jou broodbome te kry is einde Maart verby. Phillip Honeyborne, ‘n afgetrede natuurbewaringsamptenaar wat mense bystaan met die prosedures rondom dié permitte, sê dat hulle ‘n vergadering met die Departement van Omgewingsake gehad het en dat die departement gesê het dat hulle nie teen mense wat vrywilliglik ná die datum aansoek doen, gaan optree nie. Maar, as hulle op ‘n tuin sonder ‘n permit afkom, sal die eienaar skriftelike kennisgewing van 60 dae kry en as hulle dan nog nie reageer nie, sal daar regstappe geneem word. Alle inheemse broodbome moet ‘n permit hê, alhoewel jy net een permit vir al die bome in jou tuin kan uitneem. Só ‘n permit kos R50 en is vir sewe jaar geldig, terwyl die boetes by R1 000 begin as jy sonder ‘n permit gevang word. Al wanneer jy individuele permitte vir elke plant nodig het, is wanneer jy die broodbome of saailinge vervoer, verkoop of weggee. Kontak Phillip by 083-738-7334 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.cycadpermitsa.co.za.

xxx


Die drie-jarige Leon Rasebopela van Zwavelpoort se droom het, danksy die ‘Reach for a Dream Foundation’, waar geword. Leon, wat aan nephroblastoma ly, het op 8 Junie ‘n droom-oggend by Cedar Junction beleef. Vrywilliger, Marileen Steyn, het Leon en sy ma, Bettino, vroeg die oggend by Star Trading gekry vanwaar hulle na Cedar Junction is waar Leon trein gery het, op ‘n springkasteel baljaar het en sy eie fietsie persent gekry het.

xxx

Cullinan se Erfenisvereniging het ‘n gemeenskapsprojek aangepak waaraan inwoners van die dorp deelneem. Hulle gaan einde Julie ‘n toneelstuk – ‘n Seder val in Waterkloof – in die ‘Rec’-klub aanbied. Hiermee wil hulle fondse insamel om restourasiewerk in die dorp te doen, soos om die Anglikaanse kerkie in Oaklaan op te knap. Inwoners wat by die vereniging wil aansluit kan vir Lourens Koen bel by 082-880-5646.

xxx

Ons hoor dat Castle Avalon, die spoggerige trou-plek op die Boschkop-teerpad, nou in die mark is. Dié onderneming is in ‘n drie-verdieping kasteel, wat blykbaar in 1920 gebou is, en wat uit 2 200 m² vloerspasie bestaan.

xxx

Op 24 Junie hou die Hoërskool Waterkloof se konsertorkes en die Hoërskool Groton se kamerorkes ‘n buitelug konsert by die Botaniese Tuine van 11:30 vm tot 3 nm. Toegang by die hek is R30 vir volwassenes en R10 vir kinders. Bring jou eie komberse en piekniekmandjies. Kosstalletjies sal beskikbaar wees.

 

© 2024 Die/The Bronberger