Het jy gehoor? / Have you heard? - Feb 2012 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Thursday, 23 February 2012 00:43
Untitled Document

Die geheim van die groot hoeveelheid kookolie wat onlangs in Boardwalk se dam beland het, blyk opgelos te wees. Die vermoede het ontstaan dat die olie van die een of ander restaurant afkomstig sou wees. Dit blyk egter nou of die kookolie uit ‘n watertenk op ‘n Olympus-hoewe ontsnap het. Die hoewe-bewoner herwin glo ou kookolie en stoor dit in twee groot watertenks op die plot. Een van die tenks het ‘ingekonk’ en die olie het met die stormwaterstelsel langs tot in die dam geloop. Dit het glo ‘n aardige bedrag gekos om van die skadelike olie in die dam ontslae te raak.

xxx

Ons hoor dat Bronberg Wynlandgoed in Zwavelpoort binnekort die amptelike opening van hulle nuwe kapel, spesiaal vir troues gebou, gaan hou. Dit gaan die Faan Smuts kapel heet, vernoem na Faan wat die Bronberg Lodge in 2004 oopgemaak het. Faan is op 26 Augustus verlede jaar oorlede. Faan was vir meer as twee maande in die hospitaal waar hy ‘n groot hartoperasie ondergaan het. Honderde mense het die gedenkdiens op lentedag, 1 September in die tuine van die plek wat Faan gebou het, bygewoon.

xxx

Wêreldgeskiedenis is hoog in die takke gemaak toe Radio Pretoria bo uit ‘n boom by die CVO Skool in Lynnwoodweg uitgesaai het. Dié uitsending op 22 Februarie was om te bewys dat nuwe tegnologie baie dinge moontlik maak – soos om uit ‘n boom ‘n direkte wêreldwye uitsending te doen sonder enige kabelverbinding tussen die boom en die grond.

xxx

Die organiseerders van Cullinan se Groot Gat Fees, wat die afgelope twee jaar in Maart gehou is, sê hulle is nog nie seker of daar weer so ‘n fees sal wees nie. Indien wel, sal dit eers in September gehou word. As dié gewilde fees wel iets van die verlede is, sal dit volgens inwoners van die dorpie ‘n groot gatslag wees.

xxx

‘n Vriend met ‘n gasteplaas kry onlangs die volgende briefie van ‘n gas:

EK LY VIR SELIAK SIEKTE

Ek kan nie koring, rog, hawer of gars eet nie. Asseblief moenie koringmeel oor my kos besproei nie. Ek kan nie kos soos pasta of couscous eet nie. Nogtans kan jy liddorings, mieliemeel, maizena of rysmeel gebruik. Baie dankie vir u hulp.

En vriend sou kon antwoord:

Liewe Seliaksiektelyer,

Ongelukkig het ons verlede week drie gaste gehad wat ook kwaai vir Seliak ly, en ons voorraad liddorings is nou uitgeput. Maar ek het vir ons hele gesin en vir al die werkers op die plaas skoene by Pep Stores loop koop en so hoop ons om binnekort weer genoeg voorraad te hê. Laat weet asseblief al jou vriende wat ook vir Seliak ly.

Dankie vir u ondersteuning

(Naam weerhou) Gasteplaas (Lid van KKLKV – Klein Karoo Liddoringkwekersvereniging)

xxx

Die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging hou ‘n inligtingsaand en ete op 23 Februarie op Mooiplaats. Uitnodigings wat uitgestuur is vir dié aand noem dat die manier waarop jy moet aantrek ‘sommer plot-styl’ is.

xxx

Ons hoor dat Tierpoort se geliefde kuierplek-van-vele-name, grootliks bekend as Bull & Bush, weer van eienaars verwissel het. Hopelik ontmoet lesers hulle binnekort deur blootstelling in Die Bronberger.

 

© 2024 Die/The Bronberger