Het jy gehoor? / Have you heard? - Nov 2011 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Thursday, 17 November 2011 07:40
Untitled Document

Nog rare inheemse broodbome is in Zwavelpoort gesteel. Dié keer was die diefstal Maandagnag 10 Oktober aan die oostelike kant van Achillesweg. Die eerste diefstal was op 28 September by Mooi Bly Stalle aan die Zwavelpoort-teerpad. Broodboom-diefstalle moet by die polisie aangemeld word. As jy iemand raakloop wat winskoop broodbome aanbied, bel Petro Terblanche by 082-893-1850, Petro Anderson by 083-604-0074) of Gé Jooste by 082-378-9729.

xxx

Rayton se Qumi Huis hou op Saterdag 26 November ‘n ‘Expo’ vir plaaslike entrepreneurs by die Sungardens terrein. Toegang en uitstallings is gratis. Vermaak en kompetisies is aangelê, soos die kies van die ‘Kersvaderste’ Kersvader. Bel Thinus by Phat Boyz (082-824-0383) of Linda Krause (082-464-7858).

xxx

We hear that the reason why new ward committees have not yet been established is because the tender for advertising ward committee meetings were not awarded in time. Ward committees could at the earliest only be established at the end of November. However, chief whip Janho Engelbrecht put it on record that most residents would be attending year-end functions and planning and getting ready for the coming holidays at this time of year. Also, the council will be in recess on 25 November and establishing committees during council recess is highly irregular. Janho requested postponement of this process until the end of January or beginning of February.

xxx

Trou-fotograwe in Cullinan het met die hande in die hare gesit toe hulle die middel-Oktober troues nie soos gewoonlik in Jakaranda-lanings kon neem nie. Die Jakarandas in die Bronberg-gebied het toe wel op die ou einde geblom, al was dit sowat twee tot drie weke later as verlede jaar. Dit is skynbaar oor die koue wat so laat in die jaar aangehou het. Dié foto is teen die einde van Oktober in Cullinan se Coronationstraat, waar troupaartjies gewoonlik van vroeg Oktober al vir foto’s poseer, geneem.

xxx

Arie Neven het laat weet dat Foksie se eienaars nog nie vorendag gekom het nie. In Die Bronberger se Oktober-uitgawe het ons berig dat Arie op 24 September ‘n verdwaalde langbeen foksterriër langs die Zwavelpoort teerpad gevind en ingeneem het. Hy het vertel dat die hondjie baie treur oor sy mense. Arie sê dat Foksie intussen ‘n gelukkige ‘perdehond’ geword het op sy perdeplot.

xxx

By die Nickel Kersmark, van 25 November tot 11 Desember, kan jy Kersgeskenke ten bate van volwasse gestremdes en werkskepping koop. Daar is 300 uitstallers en ‘n groter en verbeterde teetuin. Ons hoor dat Lynette Breytenbach, voorheen van Nikos en Kitty Hawk Klubhuis, die teetuin vanjaar behartig. Sy het ‘n splinternuwe spyskaart opgestel en daar is heerlike ontbyte beskikbaar. Kyk op ons agterblad vir meer inligting oor die Nickel Kersmark.

xxx

Die Cullinan Bewarea se laaste praatjie-byeenkoms van die jaar was spesiaal vir kinders. Op 5 November het Jaco van Wyk die kinders gewys waar die paddas op Willow Valley melkplaas kwaak. Die middag het afgeskop met ‘n praatjie en ‘n bring-en-braai. Ná die braai is die kinders en ouers, gewapen met flitsligte, die donker nag in om die paddas te identifiseer.

xxx

Ons hoor dat vyf voertuie die laaste naweek in Oktober in Cullinan gesteel is. Almal is blykbaar uit parkeergronde gesteel.

xxx

’n Familietrop olifante is op 25 Oktober by die Dinokeng Groot Vyf-wildreservaat vrygelaat. Die groep bestaan uit ’n 20-jarige matriarg, wat met ’n satelliet-opsporingshalsband toegerus is, ses koeie, waarvan die jongste twee jaar oud is, en drie bulle, tussen vier en 16 jaar oud. Hulle is deur die Makalali-wildreservaat naby Hoedspruit aan die reservaat geskenk. Die olifantkoeie is deel van ’n langtermyn immuno-voorbehoedingsprogram wat help om olifantgetalle konstant te hou.

xxx

Daar is gerugte dat die Mobilitate webwerf, www.mobilitate.co.za, deur ‘n persoon in die Bronberg-gebied gestig is. Weet iemand dalk hoe waar dis is? Die hoofdoel van dié webwerf is die aanmelding en monitering van landswye munisipale sake. Blykbaar is ons eie Tshwane Metroraad die wakkerste munisipaliteit in die land op dié webwerf – hulle reageer glo die vinnigste op munisipale sake wat deur inwoners hier aangeteken word. Mobilitate het ook ‘n ‘Crime Spotter’ afdeling wat gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwag instansies bystaan.

xxx

Onthou dat Die Bronberger se spesiale Kersuitgawe kort op die November-uitgawe se hakke volg. Sy sperdatum is reeds Dinsdag 29 November en hy versprei vanaf 7 Desember, voor die skole sluit. Ons Nuwejaars-uitgawe kom later as gewoonlik uit en word eers ná die lang skoolvakansie versprei.

 

© 2024 Die/The Bronberger