Het jy gehoor? / Have you heard? - Jun 2011 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Friday, 24 June 2011 14:41
Untitled Document

Op twee onlangse winternagte is altesame 27 vlieënde, voorwerpe vanaf Tierpoort waargeneem en ’n wakker Tierpoorter het foto’s van die goed geneem. Ons hoop om in die volgende uitgawe meer lig op die onderwerp te gooi.

xxx

Volgens Douw Venter is daar ’n baie geloofwaardige swendelaar aan die werk in die Bronberg-gebied. Douw sê dat die ou bekend staan as Hennie Bosch en dat hy by winkelsentrums en petrolstasies rondhang en meestal vrouens nader met ’n hartseer storie. Hy vertel dat hy petrolgeld nodig het om terug te gaan plaas toe of dat hy geld nodig het vir ’n buskaartjie omdat hy beroof is. Hy gee dan sy kontakbesonderhede en sy selfoon lui selfs in sy sak as jy die nommer bel. Hy sê dat hy mense met ’n elektroniese oordrag sal terugbetaal sodra hy by die huis kom, maar dit is die laaste wat enige iemand dan weer van hom hoor.

xxx

Zwavelpoorters oorweeg dit om toegangspaaie tot dié gebied met hekke te begin beheer. Die plan is om, afhangende van gemeenskapsondersteuning, klein te begin. Dit is moontlik dat die eerste fase ’n bemande hek sal wees wat geskuif kan word terwyl die projek nog in ’n eksperimentele fase is. Dit sal dalk aanvanklik net van 10 nm tot 5 vm beman word en oopgelos word vir die res van die dag. As die aanvangstadium suksesvol is sal hoër vlakke van outomatisering en strenger toegangsvoorwaardes waarskynlik ingestel word. Die posisie van die hekke sal van die gemeenskap afhang. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

xxx

Die Gautengse premier, Nomvula Mokonyane, het aangekondig dat die ou Kungwini Munisipaliteit, wat nou deel van die Tshwane Metroraad geword het, onreëlmatighede in die toekenning van munisipale tenders ter waarde van R25,9 miljoen toon. Vir diegene wat hoop dat dié onreëlmatighede nou ’n ding van die verlede is – wel, Tshwane se onreëlmatige tender-toekenning is teen R165,5 miljoen veel groter. Dié bedrag maak Tshwane Metroraad die grootste sondaar in Gauteng.

xxx

Ons hoor ’n onlangse uitstappie per trein van Pretoria na Cullinan het nie heeltemal na wense afgeloop nie. Met die aantog moes die passasiers op Rayton al afklim, omdat boewe weer dwarslêers van die spoor afgesteel het. Die passasiers is in stampvol busse Cullinan toe afgevoer. Met die terugtog het ’n ou wat glo heeltemal te veel gekuier het, dit reggekry om van die trein af te val. Die trein het vir twee ure in die veld gestaan en wag op ’n ambulans om die ‘afvallige’ ou op te laai. Blykbaar het die vrolike treinryer uit volle bors gesing: ‘die Blou Bul eet nie van die grond af nie,’ voor hy hard met moeder aarde kennis gemaak het. Volgens een passasier het almal geduldig probeer bly omdat hulle bekommerd was oor die beseerde ‘afvallige’. Maar hulle simpatie het dadelik verdwyn toe die afgefoeterde kêrel laggend vir hulle waai toe die trein uiteindelik weer wegtrek.

xxx

Het jy gewonder waar die meeste mense in Kungwini se ou wyk 2, nou wyk 101, gestem het? Die grootste hoeveelheid kiesers, 1 808, het by Silver Lakes se klubhuis gestem, alhoewel slegs 73% van geregistreerde kiesers in daardie gebied gestem het. Daarna volg dié by Laerskool Tygerpoort en Doxa Deo se oos-kampus. Die kleinste hoeveelheid mense, 143 kiesers wat 57% van geregistreerde kiesers in dié gebied verteenwoordig, het by Laerskool Witpoort gestem.

xxx

Het jy gehoor Tierpoort se berugte gatpad is nou in só ’n toestand dat klagtes van die groot dorp se 4x4 geesdriftiges ontvang is, omdat dit nou te gevaarlik geword het vir hulle om oor naweke met hulle viertrekvuurwaens op die gatpad te kom ry.

 

© 2024 Die/The Bronberger