Tragedie tref Wet Nose Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

Een passasier is dood en 11 ander beseer toe ’n taxi die aand van 13 Mei deur Wet Nose Diereskuiling op Vaalbank se grensmuur gebars het.

Die taxi het glo teen meer as 100 km/h op die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) gery voor die voertuig van die pad af gery het, ’n rots getref het en omgeslaan het. Die taxi het die grensmuur langs Wet Nose se oefenbane getref.

Wet Nose se bestuurder en inspekteur, Veronica van Greunen, het gesien hoe die ongeluk gebeur. Volgens ’n verklaring wat dié diereskuiling uitgereik het, sou die taxi Veronica getref het as sy net vyf sekondes vroeër daar verbygeloop het.


Die plek waar die taxi deur die grensmuur gebars het
Foto’s: Verskaf deur Wet Nose

Die meeste van die passasiers is uit die taxi geslinger en Veronica het gesien hoe een van die beseerde passasiers naarstiglik probeer om haar geliefdes te bel. Sy het die passasier gehelp om ’n oproep te maak.

Die passasiers het glo almal by dieselfde maatskappy gewerk en daardie oproep het beteken dat die nuus die ander mense se geliefdes ook bereik het. ’n Rukkie later het die beseerdes se gesinne by Wet Nose aangekom en hulle gebede en trane het die nag gevul.

Tshwane-nooddienste se woordvoerder, adjunk-hoof Charles Mabaso, het gesê dat hulle die noodoproep om 5:46 nm ontvang het. Toe hulle daar aankom was Gauteng-nooddienste se ambulans reeds op die toneel. Een pasiënt is dood verklaar, nege is beseer en twee het kritiese beserings gehad. Die oorsaak van die ongeluk vorm deel van die polisieondersoek.

Die beseerdes is na Bronkhorstspruit-hospitaal en Die Wilgers-hospitaal geneem. Nóg trauma is veroorsaak toe die laaste ambulans wat die toneel verlaat het, oor ysterpenne op die N4-Oos snelweg gery het.

 

© 2024 Die/The Bronberger