Wapadrand-substasie mik vir Oktober–voltooiing Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

Werk aan die Wapadrand-substasie verloop volgens plan, het adjunk-burgemeester Nasiphi Moya ná ’n besoek op 16 Mei gesê. Sy het gesê dat sy vol vertroue is dat die voltooiing-sperdatum in Oktober behaal sal kan word.

Die rekonstruksie en herontwerp van die Wapadrand-substasie word gedoen om die betroubaarheid van elektrisiteitvoorsiening te verbeter en herhaalde kragonderbrekings te verhoed. Stad Tshwane het in Maart 2022 aangekondig dat ’n R134 miljoen projek by Wapadrand-substasie geloods word om die groeiende aanvraag na krag in die gebied te kan hanteer.

Dié substasie het op 10 Julie 2018 en weer op 17 Julie 2021 aan die brand geslaan, wat dae-lange kragonderbrekings tot gevolg gehad het. Nasiphi het in Mei gesê dit is belangrik om die nodige beskermingsmeganismes in plek te hê sodat toekomstige brande en ontwrigtings verhoed kan word.

Metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, het gesê dat die Wapadrand-substasie volgens moderne tegnologie herontwerp word en dat verskeie veiligheidsaspekte, wat vroeër nie ingesluit was nie, nou in plek sal wees.

Volgens Lindela was die meeste brande by dié substasie die gevolg van elektriese foute in die sekondêre netwerk. Stad Tshwane werk daaraan om die beskermingstelsel te verbeter sodat foute in die sekondêre netwerk afgesonder kan word voor dit die primêre substasies bereik.

Lindela het bygevoeg dat daar verskeie gevalle van battery- en kabeldiefstal in die verlede en weer onlangs was. Kabels en batterye is integrale dele van toerusting wat nodig is om stabiliteit te behou en substasies te beskerm.

 

© 2024 Die/The Bronberger