Motoris by snelweglokval vermoor Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 20 April 2024 09:00
Untitled Document

’n Motoris is doodgesteek en sy drie passasiers is beroof nadat hulle oor ’n skerp voorwerp op die N4-Oos snelweg gery het. Die insident het ongeveer 10 nm op 31 Maart naby die Donkerhoek-afrit gebeur.

Die bestuurder het langs die pad gestop om die motorband om te ruil toe gewapende aanvallers die groep oorval het.

Jean Jonker, voorsitter van die Boschkopse Gemeenskappolisiëringsforum (GPF), het gesê dat die bestuurder probeer wegkom het, maar dat hy met ’n skerp voorwerp in die nek en rug gesteek is. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Selfone en kontant is gesteel.


’n Voorbeeld van die ysterpenne wat op paaie geplaas word
Foto: Gautengse verkeerspolisie

Jean maan motoriste om nie langs die pad stil te hou as hulle oor ’n skerp voorwerp gery het nie. “Ons rig ’n dringende versoek aan padgebruikers om op hulle hoede te wees,” sê Jean. “As jy ’n pap band het, ry so ver as wat jy kan tot by die naaste veilige plek. Skakel dadelik die polisie, jou GPF of ’n sekuriteitsmaatskappy om ’n moontlike voorval aan te meld.”

Jean het bevestig dat ander voorvalle van motoriste wat oor skerp voorwerpe ry hierdie jaar aangemeld is, maar dat dié die eerste moord was. Hy het gesê dat baie van dié voorvalle naby die treinbrug en die Donkerhoekafrit van die N4-snelweg gebeur, maar dat skerp voorwerpe ook op ander dele van die snelweg geplaas word.

Die polisie, GPF en private sekuriteitsmaatskappye was binne minute op die toneel, maar die verdagtes het weggekom.

 

© 2024 Die/The Bronberger