Stapper verdrink by Nkwe Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 20 April 2024 09:00
Untitled Document

’n Stapper is op die vakansiedag, 21 Maart, by Nkwe op Tierpoort dood ná hy vermoedelik van ’n rots afgegly en verdrink het.

Volgens woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, Charles Mabaso, het die man, vermoedelik tussen die ouderdom van 25 en 30 jaar, saam met ’n vriend gaan stap toe hy teen 12:30 in die water beland het. Reddingswerkers en duikers van die nooddienste is ontbied en het die man se liggaam onder die water gekry.


Duikers en reddingspanne by Nkwe

Hy is na die oppervlak gebring, maar paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Die polisie was daar vir verdere ondersoek.

In Maart 2019 het ons berig dat ’n eerstejaar verpleegstudent aan Unisa, Boitsoko Felicia Merafe van Garsfontein, op 27 Februarie 2019 by Nkwe Plesieroord verdrink het. Die 20-jarige Boitsoko het foto’s naby die rotspoel geneem toe haar selfoon uit haar hande geglip het. Sy het probeer om die foon in die hande te kry toe sy in die water geval het.


Die toneel waar daar na die man gesoek is
Foto’s: Tshwane-nooddienste

Haar vriendin kon haar nie uit die water trek nie en het gesê dit was asof iets haar van onder af die water ingetrek het. Haar suster, Martha Merafe, het gesê dat die toestand van Boitsoko se liggaam ’n skok was. Hulle sê dat iets haar ernstig moes beseer het.

In Maart 2017 het ons berig dat die 24-jarige Iphraim Tshabalala Nkwe-oord op 4 Maart 2017 saam met vriende besoek het. Hy en ’n vriend het van ’n rots af in ’n natuurlike poel geduik. Die polisie het vermoed dat Iphraim ’n rots getref het toe hy onder die water was. Sy nek is gebreek.

 

© 2024 Die/The Bronberger