Plan om steenkool langs reservaat te myn kry groen lig Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 23 March 2024 08:00
Untitled Document

Corobrik Rietvlei-myn se omgewingsplan om vir steenkool naby die Rietvlei-dam en -natuurreservaat te myn en die wysiging van mynreg, is goedgekeur. Dit volg ná Corobrik die R1.3 miljoen administratiewe boete betaal het omdat die maatskappy steenkool wederregtelik by dié klei- en steengroef gemyn en verkoop het.

Omgewingsinstansies is besorg oor die potensieel verwoestende impak op die diere- en voëllewe en baie van dié instansies teken appèl aan teen die departement van minerale hulpbronne en energiesake se goedkeuring.

In September 2023 het Die Bronberger berig dat die myn net magtiging het om vir klei, gebruik in die maak van bakstene, te myn. Hulle wil hul produksie op ’n 211 hektaar terrein en steengroef – ’n gedeelte van die plaas Witkoppies – uitbrei. Die mynaktiwiteite waarvoor aansoek gedoen word, sluit in: die uithaal van steenkool; tydelike voorraadstapeling; die verwydering en vervoer daarvan.

Corobrik moes glo deur lae steenkool werk om by die klei en skalie uit te kom waarvan bakstene gemaak word en het in Junie 2022 ’n aansoek om steenkool te myn ingedien. Die departement van minerale hulpbronne en energiesake het op 8 Maart 2023 opdrag aan Corobrik gegee om die myn van steenkool te staak.

Ná ’n inspeksie het die departement gesê dat Corobrik ’n omgewingsimpakstudie moet doen en vir ’n wysiging van mynreg aansoek moet doen.


Corobrik Rietvlei-myn
Foto: Licebo Environmental and Mining

’n Openbare deelname-vergadering, wat deur meer as 200 omgewingsbewustes bygewoon is, is op 8 September 2023 gehou. Die departement was tevrede dat die vereistes vir openbare deelname bereik is en het Corobrik se perseel op 23 November 2023 inspekteer.

Die departement het belanghebbende partye op 16 Februarie laat weet dat Corobrik se wysiging van mynreg op 6 Februarie goedgekeur is. Die maatskappy het die goedkeuring op 19 Februarie gewysig deur die gedeelte van die eiendom waar gemyn gaan word, reg te stel. ’n Geoloog by Corobrik, Martin Hughes, het gesê dat die goedkeuring self nie verander het nie.

Corobrik se hoof uitvoerende beampte, Nick Booth, het gesê dat die omgewingsplan aandui wat die maatskappy moet doen om die omgewing te beskerm voor hulle kan begin myn. Dit sluit in fasette soos stofbeheer, die beskerming van waterbronne en paaie, die verwydering van grond wat deur mynaktiwiteite besmet is, om vloeibare afval wat waterbesoedeling kan veroorsaak in ’n rioolnetwerk te kanaliseer en om inwoners in kennis te stel van aktiwiteite wat potensieel ontwrigtend sal wees.

Die departement het voorgeskryf dat daar ’n buffer-gebied van 700 meter tussen die voorgestelde steenkoolmyn en sensitiewe gebiede soos Rietvlei-natuurreservaat moet wees.

Teen die Bronnie se saktyd het Corobrik nog vir ’n watergebruik-lisensie, wat nodig is om voort te gaan met die myn van steenkool, gewag.

Omgewingsbewustes en -instansies soos Birdlife Noordelike Gauteng (BLNG) sê dat die departement se goedkeuring ’n groot bekommernis is. BLNG sê in ’n verklaring dat die dreinering van suurwater in die reservaat, dam en vleiland ’n ernstige negatiewe impak op die voëls en ander diere sal hê en dat die omgewingsimpakstudies wat Corobrik ingehandig het dié en verskeie ander kritiese sake wat die omgewing sal raak, glad nie aanspreek nie.

BLNG se verklaring lui dat hulle op enige moontlike manier sal probeer om Corobrik se mynaktiwiteite, wat die 400 voëlspesies en ander diere in die reservaat en vleiland bedreig, tot halt te roep.

“Die potensiële impak op die waterhoudende dolomiet, wat deur boorgat-gebruikers bereik word, is ook nie in ag geneem nie. Die omgewingsplan bevat nie maatreëls om nuwe of opgegradeerde fasiliteite daar te stel om te verhoed dat water wat deur die myn besmet word, die perseel verlaat nie,” lui BLNG se verklaring.

BLNG het ’n appèl by die departement van water en sanitasie ingedien en vra almal wat vir die voëllewe by die Rietvlei-natuurreservaat en sy vleilande omgee, om ook appèl aan te teken. Laai die appèlvorm af by: https://www.environment.gov.za/documents/forms en handig in by die departement van bosbou, visserye en omgewing: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; tel: 012-399-9356.

Stuur ’n kopie aan die departement van minerale bronne en energiesake, Gautengse streekskantoor vir aandag die streeksbestuurder: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger