Rooivalk–raaisel opgelos Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 26 January 2024 22:00
Untitled Document

Inwoners van Moreletapark het gewonder hoekom ’n Rooivalk-helikopter op 11 Januarie so laag oor die huise gevlieg het. Baie mense het die helikopter naby Woodlands Boulevard gesien en het gewonder of dit dalk ’n klopjag op die Plastic View-nedersetting was.


Die Rooivalk se landing by Moreleta Kerk op 11 Januarie
Foto: Dirkie van der Spuy Bediening

Die antwoord is dat die Rooivalk betrokke was by dr Paul Potgieter se begrafnisdiens by Moreleta Kerk. Dr Paul, ’n gesiene lugvaartingenieur, was die vader van die Rooivalk-helikopterprogram en ná hy by Atlas Vliegtuigkorporasie (vandag Denel) weg is, het hy Aerosud Aviation, ’n private sektor ingenieursfirma, gestig.


Dr Paul Potgieter
Foto: Verskaf

Dr Paul is op 13 Desember verlede jaar in ’n motorongeluk oorlede toe sy BMW X5 teen ’n Ford Transit op die N1-snelweg naby Kroonstad gebots het. Hy het glo uitgeswaai vir ’n los vragmotorwiel op die pad.

Lugvaartdeskundige, Linden Birns, het gesê dat die Suid-Afrikaanse lugvaart-gemeenskap ’n reus verloor het. Hy sê dat dr Paul een van die land se eerste private-sektor lugvaartleiers was om industriële bande met maatskappy soos Airbus en Boeing te smee ná sanksies in die vroeë 1990’s teen Suid-Afrika gelig is.


Die Rooivalk by Moreleta Kerk
Foto: Dirkie van der Spuy Bediening

Die Rooivalk is ’n twee-sitplek aanvalshelikopter wat in die 1980’s ontwikkel is en aanvanklik vir die grensoorlog bedoel is. Die eerste produksiemodel wat deur die Suid-Afrikaanse lugdienste bestel is, is egter eers in 1998 afgelewer. Die Rooivalk Mk 1 helikopters word by 16 Eskader, Bloemspruit-lugmagbasis naby Bloemfontein gevlieg.

 

© 2024 Die/The Bronberger