Dit is waaroor die ’’groot geraas’’ gegaan het Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 26 January 2024 22:00
Untitled Document

’n Hewige debat is ontketen nadat Pretoria-oos-inwoners gesê het hulle is ontstoke oor die “ernstige geraasbesoedeling” wat hulle dwarsdeur die nag van 26 Desember wakker gehou het. Dawerende musiek van ’n Dinho Cafe-fees in Mamelodi kon tot vroegoggend 27 Desember gehoor word.

Raadslid vir wyk 101, Malcolm de Klerk, het die volgende oggend ’n verklaring uitgereik waarin hy sê dat “ons almal ’n aaklige nag van musiek wat die huis skud” moes deurgaan. Hy het gesê dat die byeenkoms op eiendom van Stad Tshwane, die Moretele-oord, gehou is. Dié oord is reg langs die Magaliesberg wat ’n klankversterkende effek gehad het.

Malcolm het gesê dat Tshwane se gesamentlike operasionele komitee vir byeenkomste (JOC) slegs vir ’n byeenkoms op die 26ste toestemming gegee het. Hy het gesê dat die hoof van die polisie en bedryfshoof dié toestemming sal ondersoek asook die gebrek aan tydige optrede om die fees voor 27 Desember tot ’n einde te bring.

Volgens Malcolm sal die gebeure aangespreek word. “Ons moet ’n balans hê tussen ontspanning, maar ook om nie ander se rus en vrede te versteur nie,” het hy gesê.


Mense begin op 26 Desember by die Moretele-oord aankom
Foto: Tsa Pitori

Kritiek
Dié verklaring is wyd op sosiale media gedeel en ondersteuners van Dinho Cafe het kritiek daarop gelewer. Volgens hulle is dit ’n bekende sosiale musiekfees wat jaarliks op 26 Desember gehou word om verskeie platejoggies, musikante en sangers bymekaar te bring.

Hulle sê dat dié fees al hoe groter aanhang geniet en reeds meer as ’n dekade by die Moretele-oord gehou word. Daar was glo nie voorheen klagtes oor geraas nie. Dit is nie duidelik hoekom die klankversterkingseffek dié keer in werking was nie.

Ondersteuners sê dat die organiseerder, bekend as Dinho Tiego Motau van Mamelodi, uit armoede opgestaan het om homself ekonomies te bemagtig en dat hy nou spesifiek geteiken word. Hulle sê dat die geriewe by die oord aan die inwoners van Tshwane behoort en nie net vir ontspanningsdoeleindes daar is nie, maar ook vir ekonomiese bemagtiging aangewend moet word.


Skermgreep van ’n Instagram-video oor die musiekfees in volle swang
Bron: dinho café events

Kaartjies
Duisende mense het op 26 Desember by die hekke ingestroom. Gewone toegangskaartjies na Dinho Cafe het R200 elk gekos, parkering was R50, voorkeur-kaartjies was R650 en dit het R150 gekos om jou koelboks in te vat.

Daar was tafels vir “baie, baie belangrike mense” en die goedkoopste daarvan was R5 000 vir ’n tafel vir twee met versnaperings vir twee, komplimentêre “hubbly” en ’n kroegrekening van R4 000. Die duurste was R50 000 vir ’n tafel vir agt mense met versnaperings vir agt, komplimentêre “hubbly” en ’n kroegrekening van R44 000.


Skermgreep van ’n X-video die oggend van 27 Desember
Bron: El Presidente @MochenRSA

Direkteur
Volgens b2bhint.com is Tiego Samuel Motau die enigste direkteur van Dinho Cafe, wat op
10 Oktober 2017 geïnkorporeer is, en is hy saam met Mandisa Thembani Radebe direkteur van DND Studios, wat op 27 Januarie 2021 geïnkorporeer is. Hy word ook aangedui as direkteur van Dinxang Entertainment, ’n private maatskappy wat op 21 Junie 2012 geïnkorporeer is, maar op 10 November 2022 in die proses van likwidasie begin gaan het.

Dinho Convoy is die naam van die jaarlikse ‘opwarming’ ’n week voor die Dinho Cafe-fees. Dié konvooi, wat in Mamelodi begin en dan deurgaan na Soshanguve en Atteridgeville, is in Desember 2020, in Covid-tyd, gekritiseer omdat deelnemers die Mabopane-snelweg geblokkeer het en, sonder maskers of sosiale afstand, ’n danspartytjie in die middel van die pad gehou het.


Skermgreep van ’n X-video
Bron: El Presidente @MochenRSA

Geskiedenis
Die Moretele-oord is in Afdeling L 608, Sibandestraat, Mamelodi – ’n gebied wat eens Vlakfontein genoem is. Die eiendom was aanvanklik ’n melkery en groenteplaas vir die Boikhutsong-ouetehuis.

Dit was later ’n kwekery vir die administrasieraad vir sentrale Transvaal en die bron van alle bome wat in Mamelodi aangeplant is. Inwoners noem die oord steeds ‘ga-modau’ weens die bejaarde man wat die kwekery se opsigter was.

Moretele is in die dae van die Mamelodi-stadsraad as ’n oord gebou en is in 1986 deur die destydse burgemeester van Mamelodi, Bernard Ndlazi, geopen.

 

© 2024 Die/The Bronberger