Kommer oor hangende besluit om steenkool te myn Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 20 December 2023 08:00
Untitled Document

Gaan die beoogde myn van steenkool naby Rietvleidam en -natuurreservaat voort? Die departement van minerale hulpbronne en energiesake het tot 27 Januarie volgende jaar tyd om ’n besluit daaroor te maak. Tshwane metro is een van die partye wat ernstige besware teen die mynaansoek ingedien het.

In September het Die Bronberger berig dat ’n openbare vergadering oor Corobrik se aansoek om steenkool te myn op 8 September by Rietvleidam se seilklub gehou is en deur meer as 200 omgewingsbewustes bygewoon is, insluitende verteenwoordigers van Born to be Free, Elandsvlei-bewarea, Rietvlei-natuurreservaat, Tshwane en Ekurhuleni-munisipaliteite en AfriForum.


Rietvleidam
Foto: Wikipedia

Corobrik Rietvlei-myn is langs die ou Delmaspad (R50) tussen Pretoria en Bapsfontein, ongeveer 12 km aan die noordwestekant van Bapsfontein. Die myn is na aan Sesmylspruit, wat in die Rietvleidam uitvloei, en naby die Maraisdam.

Ons het berig dat die myn net magtiging het om vir klei, gebruik in die maak van bakstene, te myn. Hulle wil hul produksie op ’n 211 hektaar terrein en steengroef – ’n gedeelte van die plaas Witkoppies – uitbrei. Die mynaktiwiteite waarvoor aansoek gedoen word, sluit in: die uithaal van steenkool; tydelike voorraadstapeling; die verwydering en vervoer daarvan.


Die ingang na Rietvlei-natuurreservaat
Foto: The Dairy Cow – Destination Irene

Corobrik se aansoek om steenkool te myn is glo omdat hulle deur lae steenkool moet werk om by die klei en skalie uit te kom waarvan bakstene gemaak word. Steenkoolreserwes is in die kleimyn se normale bedrywighede sonder die nodige magtiging blootgelê.

Die departement van minerale hulpbronne en energiesake het vroeër vanjaar ’n verbale waarskuwing aan Corobrik gerig om dadelik die myn van steenkool te staak. Volgens ’n Corobrik-woordvoerder het hulle in Junie verlede jaar, lank voor die departement se waarskuwing, aansoek gedoen om steenkool te myn.


Corobrik Rietvlei-myn
Foto: Licebo Environmental and Mining

Op die September-vergadering het Corobrik se konsultante hulle konsep basiese impakbepalingsverslag voorgelê. Omgewingskundiges het reageer deur te sê dat die hidrologiese en geologiese verslae onvoldoende is.

Die gemeenskap het onder andere aangedring op gedetailleerde hidrologiese en geologiese verslae, ’n ondersoek van die potensiële impak op die ondergrondse waterdraerstelsels, ’n impakverslag op die damme en riviere stroomaf, ’n analise van die effek op die omliggende grasvelde, vleilande en wilde diere en ’n verslag oor die potensiële impak op Rietvleidam se damwal.


’n Lugfoto wat op 30 Augustus geneem is, wys die waterbronne naby aan Corobrik Rietvlei-myn
Foto: Verskaf

Hulle vra ook vir ’n evaluering van die ekonomiese en sosiale impak op die plaaslike gemeenskap, ’n deeglike lugbesoedeling impakstudie, ’n verslag oor die impak op die R50 provinsiale pad, sy padgebruikers en toestand, ’n volle verslag oor die volume steenkool wat die myn reeds uitgehaal het en beplan om uit te haal en ’n volle verslag oor die tydperk wat die steenkool uitgehaal is en toekomstige potensiaal.

Die konsep basiese impakbepalingsverslag, opgestel deur Licebo Environmental and Mining, was tot 26 September vir openbare kommentaar by die Rietvlei-natuurreservaat se kantore beskikbaar.

Licebo het die finale basiese assesseringsverslag en omgewingsbestuursprogram op 12 Oktober aan die departement van minerale hulpbronne en energiesake voorgelê. Die departement het 107 dae ná die voorleggingsdatum om te besluit of Corobrik kan voortgaan om steenkool op die terrein te myn of nie.


’n Openbare vergadering is op 8 September by Rietvleidam se seilklub gehou
Foto: Jill Watson

Tshwane-metro het die departement laat weet dat hulle ernstige besware teen die aansoek het omdat dit ’n nadelige en onomkeerbare impak op die stad en omgewing sal inhou. Lindela Mashigo, Tshwane-metro se woordvoerder, sê die watertoevoer en -voorsiening aan die groter gedeelte van Tshwane sal permanent nadelig beïnvloed word.

Lindela het egter gesê dat Corobrik se werksaamhede buite die stad se gesagsgebied val en dat Tshwane-metro bloot ’n belanghebbende party is. Volgens Lindela oorweeg die metro om hom op sy reg van appèl te beroep op enige besluit wat deur die departement gemaak word.


Die vergadering is deur meer as 200 omgewingsbewustes bygewoon
Foto: Jill Watson

Lindela het gesê dat die metro en sy inwoners op ekologiese, ekonomiese en sosiale vlakke té hoë prys sal betaal vir waterbesoedeling, wat met die myn van steenkool gepaard gaan. Daar is ook ’n gesondheidsrisiko vir die fauna en flora van Rietvlei-natuurreservaat. Volgens hom kan die metro nie wetend sulke hoë-risiko projekte toelaat nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger