Gewapende roof in Wapadrand Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 16 November 2023 12:00
Untitled Document

’n Wapadrandse drankwinkel is op 26 Oktober met toemaaktyd rondom 8 nm beroof en daar is op ’n sekuriteitswag geskiet.

Volgens polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Johan van Dyk, is ’n onbekende hoeveelheid geld asook drank ter waarde van R50 000 by die drankwinkel in die Wapadrand-koopsentrum op die hoek van Lynnwood- en Wapadrandweg gesteel. ’n Klag van sakeroof en poging tot moord is ingedien.

Voorlopige verslae het aangedui dat twee verdagtes ’n werknemer en bestuurder van die drankwinkel met ’n vuurwapen aangehou het en dat ander werknemers aangesê is om plat te lê. ’n Verdere twee verdagtes, wat buite die winkel waggehou het, het op die sekuriteitswag geskiet. Volgens die wag is twee skote afgevuur; een is deur die bakkie se kap en die ander een deur die bestuurder se deur en sy regterstewel.

Die verdagtes is daar weg in ’n wit Hyundai-sedan met ’n onbekende registrasienommer.

 

© 2024 Die/The Bronberger