Kommer oor myn van steenkool langs reservaat Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 21 September 2023 14:00
Untitled Document

Lede van die publiek het tot 26 September kans om kommentaar te lewer oor die beoogde myn van steenkool naby Rietvleidam en -natuurreservaat. Dié reservaat word deur die bedreigde Bankenveld-grasveld gekenmerk en is die tuiste van omtrent 400 voëlspesies en 1 600 groter soogdiere.

Corobrik Rietvlei-myn is langs die ou Delmaspad (R50) tussen Pretoria en Bapsfontein, ongeveer 12 km aan die noordwestekant van Bapsfontein. Die myn is naby aan Sesmylspruit, wat in die Rietvleidam uitvloei, en naby die Maraisdam.

Volgens hoewebewoners in die omgewing is die myn naby vleilande, die sensitiewe Bapsfontein ondergrondse waterdraerstelsels en 2 km weg van die fontein op Grootfontein wat elke dag meer as 7 000 kiloliter water aan Pretoria gee. Inwoners vrees ook dat hulle boorgate en die Rietvleidam, wat ongeveer 15% van Pretoria se drinkwater verskaf, beïnvloed sal word.


Corobrik Rietvlei-myn
Foto: Licebo Environmental and Mining

Hulle vra of toestemming aan die myn gegee gaan word om water te gebruik en om die vloei van water te belemmer of te herlei. Gaan die aansoek ook die reg om afvalwater of water wat afval bevat in die omgewing te stort?

Die myn het net magtiging om vir klei te myn vir die maak van bakstene. Hulle wil hul produksie op ’n 211 hektaar terrein en steengroef uitbrei. Die mynaktiwiteite waarvoor aansoek gedoen word, sluit in: die uithaal van steenkool; tydelike voorraadstapeling; die verwydering en vervoer daarvan.

Corobrik se aansoek om steenkool te myn is glo omdat hulle deur lae steenkool moet werk om by die klei en skalie uit te kom waarvan bakstene gemaak word. Steenkoolreserwes is in die kleimyn se normale bedrywighede sonder die nodige magtiging blootgelê.

Die departement van minerale hulpbronne en energie het vroeër vanjaar ’n verbale waarskuwing aan Corobrik gerig om dadelik die myn van steenkool te staak. Volgens ’n Corobik-woordvoerder het hulle in Junie verlede jaar, lank voor die departement se waarskuwing, aansoek gedoen om steenkool te myn.


’n Lugfoto wat op 30 Augustus geneem is, wys die waterbronne naby aan Corobrik Rietvlei-myn
Foto: Verskaf

’n Openbare vergadering is op 8 September by die seilklub by Rietvleidam gehou en is deur meer as 200 omgewingsbewustes bygewoon, insluitende verteenwoordigers van organisasies soos Born to be Free, Elandsvlei-bewarea, Rietvlei-natuurreservaat, Tshwane en Ekurhuleni-munisipaliteite en AfriForum.

Corobrik se konsultante het hulle konsep basiese impakbepalingsverslag aan die byeenkoms voorgelê en omgewingskundiges het aangedui dat die hidrologiese en geologiese verslae onvoldoende is.

Die gemeenskap het aangedring op gedetailleerde hidrologiese en geologiese verslae, ’n ondersoek van die potensiële impak op die ondergrondse waterdraerstelsels, ’n impakverslag op die damme en riviere stroomaf, ’n analise van die effek op die omliggende grasvelde, vleilande en wilde diere en ’n verslag oor die potensiële impak op Rietvleidam se damwal.

Hulle vra ook vir ’n evaluering van die ekonomiese en sosiale impak op die plaaslike gemeenskap, ’n deeglike lugbesoedeling impakstudie, ’n verslag oor die impak op die R50 provinsiale pad, sy padgebruikers en toestand, ’n volle verslag oor die volume steenkool wat die myn reeds uitgehaal het en beplan om uit te haal en ’n volle verslag oor die tydperk wat die steenkool uitgehaal is en toekomstige potensiaal.


Rietvleidam
Foto: Wikipedia

Die gemeenskap soek ook antwoorde oor die maatreëls wat in plek gesit sal word om die skade wat reeds aangerig is, te rehabiliteer en die maatreëls om kort- en langtermyn toekomstige skade aan die omgewing te rehabiliteer.

Die konsep basiese impakbepalingsverslag, opgestel deur Licebo Environmental and Mining, is tot 26 September vir openbare kommentaar by die Rietvlei-natuurreservaat se kantore beskikbaar: 012-358-1812. ’n Elektroniese kopie is beskikbaar by: licebo.co.za/projects/public-review-documents.

Vir openbare deelname vorms, kontak Ralph Repinga: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of 083-257-8869, of Lindokuhle Nsibande: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of 078-146-2741.

 

© 2024 Die/The Bronberger