Inwoners moet hoes vir broodnodige brug Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 21 September 2023 14:00
Untitled Document

Die brug by die druiweplaas in Achillesweg, Zwavelpoort is sedert Februarie 2022 gesluit. Stad Tshwane gaan nie in die voorsienbare toekoms die brug herstel nie en inwoners is self besig om oplossings te soek.

Die pad met die brug is nodig vir mense, veral ouers wat kinders daagliks skool toe moet aanry, wat die Zwavelpoort-teerpad na Lynnwoodweg-verlenging wil gebruik of diegene wat Atterburyweg vanaf die Zwavelpoort-teerpad wil bereik.

Die Bronberger het in Februarie 2022 berig dat swaar reën op 4 Februarie en die vroeë oggendure van 5 Februarie verwoestende vloede veroorsaak het en dat die brug oor die Zwavelpoortspruit vernietig is.

JP Nel het gesterf ná vloedwater sy motor op 4 Februarie van dié brug meegevoer het. Hy is eers naby Graceland langs die Zwavelpoort-teerpad uit die spruit gered en is in die hospitaal oorlede. Daarná is dié brug as lewensgevaarlik beskou.

Die Bronberger berig al meer as twee dekades hoe vloedwater dié brug telkens laat verspoel. In Julie 2009 het ons berig dat ’n kontrakteur van die destydse Kungwini-munisipaliteit die ou laagwaterbruggie afgebreek het. In September daardie jaar het ons berig dat ’n nuwe brug uiteindelik voltooi is en Achillesweg oopgemaak is vir verkeer.

Hendrik Ver Loren Van Themaat van die druiweplaas sê dat dié stukkie pad nie eintlik bruikbaar was voor die brug gebou is nie. Hy het pype onderdeur die pad gehad en die pad was destyds deur Nico Hope se grond.


Die pad en brug by Hendrik Ver Loren Van Themaat se druiweplaas op 28 Januarie 2021
Foto: Skermgreep uit video

Lucia Nagel van die Zwavelpoort Huiseienaarsvereniging sê dat Stad Tshwane verlede jaar verskeie professionele spanne ingebring het om die brug-situasie deeglik te ondersoek voor daar besluit is om die oorweg te sluit. Dit het aan die lig gekom dat, in terme van omgewingswetgewing, die brug slegs herbou kan word nadat ’n omgewingsimpakstudie uitgevoer is en dat daar eers ’n waterlisensie verkry moet word. 

Lucia sê dat die Zwavelpoort Huiseienaarsvereniging toe aan die werk gespring het met ’n noodpadplan. “Daar het egter verskeie stokkies in die speke beland en die plan kon nie van die grond af kom nie, al het die gemeenskap reeds fondse bymekaargemaak, wat nog in die nie-winsgewende maatskappyrekening lê waarin dit gebank is. Dit kon tydelike verligting gebring het, maar so het die tyd verstryk waar dit ’n noodpad kon word.”

Lucia sê dat Stad Tshwane aan die inwonersvereniging berig het dat daar voldoende ander hoofroetes vir padgebruikers is om by hulle bestemmings uit te kom. Daar is glo ook nie fondse om nou aan ’n kortpad aandag te gee nie.

“Daar het ’n drukgroep onstaan van mense wat erns wil maak met die herstel van die brug  sonder toestemming van die raad en ook op eie risiko,” sê Lucia. “So het Hannes Luttig ’n pamflet versprei vir hulp, onder die vaandel ‘Swavelpoort Access’”.

Hannes het berig dat ’n steekproef gedoen is en dat nagenoeg 60 mense belangstelling getoon het. Achillesweg is op ’n servituut gebou en loop oor grondeienaars se private eiendom wat ‘landbou algemeen’ gesoneer is: Hendrik Ver Loren Van Themaat van die druiweplaas en Sampie Dirker se kleinhoewes – Z123 en Z124.

Toestemming van dié grondeienaars moet verkry word om die kortpad te bou en Hannes het berig dat Hendrik Ver Loren Van Themaat besoek is. Hendrik het gesê dat hy heeltemal bereid is om toe te stem indien die brug volkome herstel word en ook as die pad wat hy op eie koste daar laat bou het, verbreed en onderhou word.

Hannes het berig dat ’n kwotasie vir die herstel van die brug R455 000 beloop het, maar dat ’n ander kontrakteur aangedui het dat hy dit vir ongeveer R385 000 sal kan doen. ’n Kwotasie vir die verbreding van die pad beloop tussen R400 000 en R550 000, afhangende van hoe breed en hoe ver dit gedoen sal word.


Die brug wat in September 2009 gebou is

’n Nie-winsgewende maatskappy met sy eie bankrekening moet gestig word vir die fondsinsamelingsprojek.

Lucia sê daar is baie meer wat oorweeg moet word as net die behoefte van enkele padgebruikers. Achillesweg is deur die grondeienaars vanaf Saalstraat af ondertoe self met ’n stoflaag gedek, net soos Saint-, Bastille- en Saalstraat. Die stoflaag is nie geskik vir die lading van swaarvoertuie nie.

Hendrik Ver Loren Van Themaat sê dat hy, Leo Middelberg en Lloyd Monday seker al meer as ’n dekade lank aan die spook is om toegang tot die pad te beheer. “Die stormwater het dit toe sommer gedoen,” sê hy.

“Indien die herstel op eie risiko wel voortgaan, sal daar ernstige oorweging gegee moet word aan toegangsbeheer op een of ander manier om die trokke van die brug af te hou en te voorkom dat swaarvoertuie enigsins op daardie pad kom, aangesien daar geen omdraai plek is nie. Dit is werklik ’n komplekse en emosionele situasie wat met omsigtigheid bestuur moet word,” sê Lucia. 

Vir meer inligting oor die gemeenskap se brugbouplanne, stuur ’n e-pos met jou naam en selfoonnommer na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger