Só lyk Donkie se Donkerhoek-herehuis nou Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 August 2023 08:00
Untitled Document

“Dit is hartseer om die verwoesting van Donkie Wolmarans se geskiedkundige ou herehuis uit die 1800’s te sien,” sê Joan van Zyl van die Cullinan-bewarea. Sy het foto’s wat op 23 Julie geneem is vir die Bronnie gestuur.


Só het die swierige ou herehuis se vooraansig gelyk

In Julie 2022 het ons berig dat die einde van ’n era vir dié Donkerhoek-herehuis aangebreek het. Ian MacDougall het aangekondig dat die familie ná vyf geslagte uit dié opstal moet trek. Die aangrensende Pienaarspoort se groeiende plakkerskampe het al hoe nader gekom en huise in dié gebied is afgebreek en weggedra.

Dié swierige ou herehuis is teen groot moeite en koste deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans, gebou. Donkie het sy gedeelte van die plaas Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en Wolmarans Rust gedoop.


’n Blik op die binnenshuise verwoesting deur dit wat eens ’n venster was
Bron: Joan van Zyl

Ingevoerde hout vanaf Duitsland, wat met kalk behandel is om brandbestand te wees, is in die bouwerk gebruik. Die houtsneewerk, vensters, balke, vloere, deure en kaggels is uit Europa verskeep en met ossewaens na Pretoria gebring.

Plunder
In Oktober 2022 het ons berig dat die Donkerhoek-herehuis geplunder word en dat ’n bende van 100 of meer plunderaars in Pienaarspoort en Donkerhoek hand uit geruk het. Ons het berig dat ander mense, soos die Pohl-gesin, ook vroeg in September 2022 van Donkerhoek moes vlug, en dat hulle huis daarna in puin gelê is.


Die stoep met ingevoerde houtwerk soos dit eens gelyk het

Die Bronberger berig al meer as ’n dekade lank hoe Pienaarspoortse huise afgebreek word en alles wat bruikbaar is weggedra word. Huiseienaars is met die dood gedreig en wagte wat die gebied gepatrolleer het, is aangeval.


Die stoep op 23 Julie
Bron: Joan van Zyl

Vir oud-Pienaarspoorters, wat lankal uit die gebied moes vlug, is die verbasende feit nie dat die Donkerhoek-herehuis geplunder is nie. Hulle is verstom dat dele van die buitemure enigsins nog staan.

 

© 2024 Die/The Bronberger