Groen lig vir woonstelblokke langs reservaat Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 July 2023 08:00
Untitled Document

Die beplande woonstelblokke op die grens van Moreletakloof-natuurreservaat, waar die Rademeyerspruit in die reservaat vloei, het die groen lig gekry.

In November 2022 het ons berig dat 41 woonstelle beplan word in ’n ontwikkeling, Erasmuskloof Uitbreiding Ses, op die 1,8 hektaar oop stuk grond teen Rubensteinrylaan. Die applikant, Moreleta Meander (Edms) Bpk, het aansoek gedoen om ’n residensiële ontwikkeling met verwante infrastruktuur daar te stel.

Toegang tot dié ontwikkeling sal via Rutgersstraat wees, ongeveer 290 meter vanaf Rubensteinrylaan. Daar is voorgestel dat ’n nuwe twee-baan pad van ongeveer 100 meter gebou word. Dié pad sal strek van die kruising van Rutgers- en Verdistraat tot die ingang na die nuwe ontwikkeling.

In Julie 2022 het ons berig dat dié beoogde ontwikkeling op gedeelte 88 (’n gedeelte van gedeelte 17) van die plaas Garstfontein 374 JR baie vrae oor Moreletakloof, ’n reservaat van 93 hektaar, se behoud laat ontstaan het.

Jeannie du Plessis, bestuurslid van Vriende van Moreletakloof, het destyds gesê dat ’n verandering aan die volume of gehalte van die Rademeyerspruit ’n impak sal hê op die reservaat se boom- en plantspesies, die meer as 400 sampioensoorte wat al in die kloof uitgeken is en wat die klammigheid nodig het, en die meer as 100 bokke, sebras en volstruise. Die reservaat is ook bekend vir sy baie voëlspesies omdat die kloof ’n natuurlike woud langs die spruit vorm.


Die perseel word met die geel driehoek aangedui en die straat wat voor dit
verbyloop is Rubensteinrylaan
Foto: Verskaf

Jeannie het gesê dat die stormwaterstelsel met konstruksie en daarna goed gereguleer moet word omdat besoedeling van die spruit nie net Moreletakloof sal benadeel nie, maar ook die ander groen gebiede wat die spruit ondersteun, soos Serene Valley en die Faerie Glen-natuurreservaat.

Omgewingskonsultante vir die beoogde ontwikkeling, Landscape Architects and Environmental Planners (Leap), het op 3 Julie laat weet dat die Gautengse Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en die Omgewing omgewingsmagtiging aan dié voorgestelde residensiële ontwikkeling toegestaan het onderhewig aan nakoming van die gewysigde uitlegplan.

Die aanvanklike uitlegplan, gedateer 15 Februarie 2023, is nie goedgekeur nie en moet aangepas word en by die departement ingedien word vir goedkeuring voor die voorgestelde aktiwiteite mag begin.

Die aangepaste plan moet ’n bufferstrook van 32 meter vanaf die rand van die rivier se oewer aandui. In dié strook mag daar geen ontwikkeling plaasvind nie, behalwe die installasie van eksterne dienste (pype) met geen of min ontwrigting aan die rivier en die bufferstrook.

Die lang lys spesifieke voorwaardes wat in die omgewingsmagtiging aangedui word, sluit onder andere die volgende in: Die rand van die waterloop moet duidelik afgebaken word. Aktiwiteite verwant aan die konstruksie, soos die oprig van ’n kampplek of stoorgebied vir konstruksiemateriaal, moet buite die 32 meter bufferstrook val.

Ná die departement die uitlegplan goedgekeur het, moet ’n gekwalifiseerde botanikus of landskapargitek inheemse bome en struike, wat beskerm moet word, identifiseer. So min as moontlik van dié bome en struike moet uitgehaal word.

Hervestiging van inheemse plantspesies moet in konsultasie met die departement se biodiversiteitsbestuurdirektoraat gedoen word. Medisinale plante in die voorgestelde ontwikkelingsgebied moet gered word.

Die kontrakteur moet seker maak dat geen rooidata of bedreigde fauna-spesies in die konstruksiefase ontwrig, in strikke gevang, gejag of doodgemaak word nie.

Masjinerie moet weekliks nagegaan word sodat daar verseker kan word dat geen smeermiddels in die grond en water mors nie.

Geen oppervlak stormwater op die perseel moet direk in die rivier vrygestel word nie. Die stormwaterstelsel se opgaargebied en uitlaatstrukture moet buite die rivier en die 32 meter buffersone wees.

 

© 2024 Die/The Bronberger