Splinternuwe slenter speel hier af Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 18 May 2023 09:09
Untitled Document

’n Nuwe slenter om voertuie te kaap speel langs die Ou Bronkhorstspruitpad af.

Karin Yssel, voorsitter van die Cullinanse Gemeenskappolisiëringsforum (GPF), berig dat ’n man net ná 5 nm op 21 April op Donkerhoek, naby Stout Goat, gekaap is toe hy ’n skynbaar hulpelose wit vrou wou help om ’n pap band om te ruil.

Misdadigers het te voorskyn gekom en ’n vuurwapen op hom gerig. Hulle het met sy motor, asook die motor van ’n tweede motoris wat gestop het om te help, daar weggery.

Daarna het van die gewapende verdagtes die vrou gehelp om haar wiel om te ruil en sy het die toneel ongedeerd verlaat. Karin sê die vermoede is dat dié vrou saam met die kapers werk.
Moenie stop om enige iemand langs die Ou Bronkhorstspruitpad of die N4-snelweg te help nie, sê Karin.

Die Boschkopse GPF het berig dat daar op 20 April verskeie insidente op dié twee roetes was. Boewe plaas skerp voorwerpe, klippe of ander voorwerpe, wat in swartsakke versteek is, op die pad met die doel om jou bande te beskadig sodat jy sal stop en uit jou voertuig klim.

Hulle skuil ’n paar honderd meter vanaf die voorwerpe en beroof diegene wat stop. Gevalle is aangemeld waar slagoffers die veld ingesleep word en gedwing word om geld met selfoontransaksies oor te plaas. In ’n paar gevalle is skote afgevuur en verskeie mense is reeds beseer, sommiges doodgeskiet. Die verdagtes is altyd gewapen en gevaarlik.

Die meeste voertuie beland tussen 8 nm en 11 nm in die lokvalle, maar gevalle is al tot 6.30 vm aangemeld.

Die Boschkopse GPF beveel aan dat jy altyd op jou hoede moet wees vir voorwerpe in die pad. As jy oor ’n skerp voorwerp gery het, moet jy stadig aanhou ry tot by die naaste veilige plek. Bel jou plaaslike GPF, noodgroep of sekerheidsmaatskappy sonder om te stop en deel jou “bewegende ligging” met vriende en familie.

 

© 2024 Die/The Bronberger