Betogers versper pad oor dienslewering Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 21 April 2023 11:01
Untitled Document

Woedende betogers het die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) op 27 Maart met klippe, takke en brandende bande versper. Die protes-aksie het oor onvoldoende watervoorsiening aan informele nedersettings in die omgewing gegaan.

Ross Welsh, voorsitter van die Boschkopse Gemeenskappolisiëringsforum (GPF) het gesê dat die SAPD en Metro-polisie ingelig is en die nodige stappe geneem het om die Ou Bronkhorstspruitpad tussen die Cullinan/Rayton-pad (R515) en Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) te sluit.

Die N4-oos-snelweg was oop en verkeer het in lang toue by die Cullinan/Rayton tolhek opgedam. Die pad is teen 12.30 nm weer oopgemaak en motoriste is gewaarsku om bedag te wees op puin langs die pad.


Betogers het die Ou Bronkhorstspruitpad versper
Foto: Itumeleng Mokoena

Ross het motoriste vir hulle geduld bedank en ook alle GPF-lede wat hulle tyd opgeoffer het om die gemeenskap veilig te hou.

Inwoners van die informele nedersettings in dié gebied sê dat hulle voorheen sewe dae ’n week water gekry het, maar nou kry hulle net op Maandae, Woensdae en Saterdae water, wat nie genoeg is vir die hele gemeenskap nie.

Oupa Mahlangu van die Donkerhoek-omgewing het aan Die Bronberger gesê dat die mense van Lethabong en Skierleke dringend hulp nodig het met dienslewering.

Tshwane-metro woordvoerder, Lindela Mashego, het gesê dat basiese dienslewering aan dié informele nedersettings op 6 Maart begin het. Daar was glo ’n paar vertragings en uitdagings, maar Lindela het belowe dat dienslewering sal voortgaan.

 

© 2024 Die/The Bronberger