Onverklaarbare geheueverlies ná diefstal Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 21 April 2023 11:03
Untitled Document

’n Vrou, wat besig was om inkopies te doen, se ontstellende ervaring daarvan om beroof te word terwyl sy geheueverlies gehad het, moet as waarskuwing vir ander dien.

Só sê Karin Yssel van die Cullinanse Gemeenskappolisiëringsforum (GPF). Karin sê dat ’n vrou van Rayton op Saterdag 18 Maart by Silver Oaks Crossing op die hoek van Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) en Von Backstrom Boulevard, Willow Acres besig was met inkopies.

In die winkel is sy deur twee vrouens genader en hulle het met haar begin gesels. Een van die vrouens het in ’n stadium aan haar gesig geraak en daarna kon sy niks onthou nie.

Toe sy weer tot haar sinne kom, was haar handsak en alles wat sy aan haar gehad het weg en haar bankrekenings is leeggemaak. Beeldmateriaal wys hoe die vrou gewilliglik saam met die ander twee vroue uit die winkel uit loop.

“Wees asseblief waaksaam en ekstra versigtig wanneer jy deur vreemdelinge genader word terwyl jy inkopies doen. Hierdie mense is baie georganiseerd,” sê Karin.

Behalwe dat sy baie getraumatiseerd is, is die slagoffer nie seergemaak nie.

’n Saak is by die Boschkop-polisiestasie geopen.

 

© 2024 Die/The Bronberger