Roerende ervaring oor tragiese soektog gedeel Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 16 March 2023 10:33
Untitled Document

“Sy het my nou net laat weet. Hulle mooie dogter se liggaam is in die rivier gekry. Die skok, hartseer, trauma, draf in pynseine deur my hele lyf. Ek kan die twee mense en hulle uitdrukkings op hulle gesigte nie uit my gedagtes kry nie. Dié twee mense, hier onder die boom. Woorde is daar nie.”

Só het Magriet Kruger van die gasteplaas, Zandvlakte in die Baviaanskloof, waar Landi Prinsloo se ouers vakansie gehou het, gesê toe hulle die tyding kry dat hulle dogter, ’n ma van drie kinders van twee, vier en nege jaar oud, vermis word.


Jann en Landi Prinsloo
Foto’s: Verskaf

Die 39-jarige Landi Prinsloo van Kameeldrif-Oos se liggaam is op 24 Februarie in die Pienaarsrivier gevind met ’n skietwond aan die kop. ’n Pistool is sowat 300 meter van haar liggaam af gevind.

Landi is gekry ná ’n soektog deur verskeie reddingspanne, polisiehonde, -duikers, ’n helikopter en die gemeenskap in die omgewing van die Pienaarsrivier. Sy het op 23 Februarie verdwyn en haar laaste boodskap aan haar man, Jann, was dat sy op pad na Montana was. Haar voertuig se opsporingstelsel het egter gewys dat sy na Roodeplaatdam se kant toe gery het.


Magriet Kruger

Landi se voertuig is daardie selfde dag by die K9-hondeskool op die Molotopad gevind. Haar sleutels, selfoon, skoene en klere is in die vroeë oggendure van 24 Februarie langs die Pienaarsrivier gevind, maar haar lyk is eers 9:45 die oggend gevind.

Magriet Kruger en haar man Pieter van die Baviaanskloof is daardie oggend oor Landi se dood ingelig. “Hier onder die boom het die jong ma se ouers gestaan. Verslaentheid, skok, hoop, en sterkwees op hulle gesigte uitgebeitel: 1 200 km van hulle dogter wat gisteroggend verdwyn het. Hulle het eers sopas die nuus gekry.”

“Hulle het deur die nag gery. Kort-kort het ons boodskappies gedeel, soos wat hulle stop by Colesberg, Bloemfontein en toe uiteindelik Pretoria, vroeg vanoggend. Ek wou nie slaap nie. Hulle kon nie.”

 

© 2024 Die/The Bronberger