Motief straks meer as roof by aanval op melkplaas Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 March 2017 11:21
Untitled Document

Albie van Jaarsveld van die Du Plooy’s-melkplaas op Kaalfontein is Vrydagaand 17 Maart om 9 nm met ‘n graaf aangeval toe hy wou gaan kyk hoekom die honde by sy skoonma se huis blaf. Albie wou ‘n soeklig uit ‘n bakkie in die waenhuis gaan haal. Hy het vir ‘n oomblik by ‘n siek skaap in die waenhuis gebuk, toe hy van agter met ‘n graaf oor die kop geslaan is.

Albie sê hy kan nie veel onthou nie, maar hy was besig om met ‘n aanvaller te stoei en die oorhand te kry toe hy sy bewussyn verloor. Waarskynlik was daar meer as een aanvaller. Toe hy later bykom was sy hande aan ‘n paal vasgebind.

Intussen het Albie se vrou, Hannelie, van hulle huis, ‘n paar honderd meter van haar ma se huis en die waenhuis af, gesien dat die bakkie se ligte op een plek bly brand en bekommerd geraak. Sy het aanhoudend probeer bel. Albie het sy bewussyn herwin en die selfoon, wat met die bakleiery onder die bakkie ingeval het, met sy voet nadergetrek en met Hannelie gepraat. Hy het gesê sy moet hulp ontbied.

Hannelie sê sy was al by die voordeur uit om na Albie toe te gaan toe ‘iets’ haar keer. Sy is terug die huis binne en het die deur gesluit voor sy ‘n buurman gebel het. Niks is in die voorval gesteel nie en die motief kon waarskynlik meer as roof gewees het. Hannelie en Albie vermoed die skurke wou haar en die kinders uit die huis uit kry en het moontlik in die donker vir hulle gewag.

Die buurman, Timothy Yoman, was gou by Hannelie en lede van die GPF het daarna opgedaag. Dit is moontlik dat die boewe op vlug geslaan het toe hulp opdaag. Die alarm by die Kakiebos restourant, daar naby, is kort daarna geaktiveer en mense het drie verdagtes oor die terrein sien hardloop.

Hannelie en Albie het gesê hulle wil graag baie dankie sê aan almal wat die aand kom help het en almal wat hulle ook daarna bygestaan het. “Dit gaan in die omstandighede en deur die genade goed met ons,” het Hannelie gesê.

 

© 2024 Die/The Bronberger