Gewraakte advertensiebanier val Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 February 2017 04:58
Untitled Document

Die reuse banieradvertensie van MTN teen ‘n rant langs die N4 op Donkerhoek, is aan die begin van Februarie verwyder. Dit volg nadat Bronnie-lesers en inwoners skerp kapsie gemaak het teen die ‘onooglike’ banier wat die omgewing en natuur volgens hulle geskend het.

Die Bronberger het die klagtes opgevolg en by verskillende belanghebbendes navraag gedoen oor die wenslikheid en regmatigheid van die advertensie teen ‘n krans van ’n mooi rant op die Donkerhoekhoewe.

In verlede maand se Bronnie kon ons berig dat die besturende direkteur van Connect Media Advertising, PJ van Rensburg, wat die betrokke perseel namens die grondeienaar, Magnum Archery BK, bemark, onderneem het dat die bord om ‘estetiese redes’ verwyder sal word.

Die advertensiebanier beleef sy laaste oomblikke.
Foto’s: Mariette Blom

Dit is ook gesê dat toestemming in 2009 by die destydse stadsraad van Kungwini verkry is om advertensieborde op die grond te mag oprig. Maar volgens Lex Middelberg, voormalige raadslid en inwoner van die gebied, is ‘n aansoek wat in 2008 gedoen is, nie goedgekeur nie.

Lex het aan Die Bronberger gesê die eienaar van die grond het toe aansoek om sakeregte en ontwikkeling gedoen, waarby ingesluit was, ‘n aansoek om die reg om ‘n ‘billboard’ op die grond op te rig. Die aansoek wat voor Kungwini en Gauteng se departement van landbou en landelike ontwikkeling gebring is, is in sy geheel afgekeur. Lex sê hy het die dokumentasie in sy argiewe om dit te staaf.

Geen nuwe aansoek is sedertdien volgens Lex gedoen nie en as aansoek gedoen sou wees, sou hy en ander bure dit teengestaan het. Sakebedrywighede wat jare reeds sonder toestemming daar gedoen word, veroorsaak ongerief en het selfs daartoe gelei dat een inwoner sy beesboerdery moes staak weens hekke op sy grond wat voortdurend oopgelos is.

“Dit is bejammerenswaardig dat Sanral, die provinsiale regering van Gauteng en die metroraad van Tshwane steeds na die regeringsverandering, nie in staat is om hulle eie ordonnansies af te dwing nie,” het Lex gesê.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger