Bronnie en lesers lei tot val van ‘aaklige’ advertensiebord Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 31 January 2017 22:15
Untitled Document

Bitter ontevredenheid onder Bronnie-lesers oor ‘n ‘aaklige advertensiebord wat die omgewing ontsier’ het daartoe gelei dat die bord van MTN langs die N4-snelweg voor die einde van Januarie verwyder gaan word.

Die reuse bord, wat die selfoonmaatskappy adverteer, is teen ‘n rotswand van ‘n rant op ‘n Donkerhoekhoewe opgerig en is volgens lesers ‘n seer oog wat die mooi omgewing ‘opfoeter’.

Die aanloop na die hele proses om die bord te laat verwyder het begin toe Mariëtte Blom van Rayton op Die Bronberger se Facebook-blad gevra het wat mense se mening oor die bord is. Volgens haar ontsier dit die natuur en kan dit soos vele ander liewer iewers met pale opgerig word.

Die reaksie van lesers was oorweldigend. Almal het hulle ongelukkigheid en selfs woede uitgespreek oor die bord. Die Bronnie het per e-pos navrae oor die geldigheid en wenslikheid van die advertensiebord by betrokkenes gedoen en enkele uitlatings en kommentaar van ons lesers bygevoeg. Navraag is by Sanral, MTN en by die raadslid vir die gebied, Mike Strange, en vorige raadslid, Lex Middelberg, gedoen.

Die besturende direkteur van Connect Media Advertising, PJ van Rensburg, wat die betrokke perseel namens die grondeienaar, Magnum Archery BK bemark, het op ons navrae gereageer en na opvolgende briewewisseling en telefoongesprekke het PJ laat weet dat die bord aan die einde van Januarie verwyder sal word.


Mariëtte Blom wou by die Bronnie se lesers hoor wat hulle van die bord dink

Toestemming vir die gebruik van die perseel vir advertensieborde is in 2009 van die Kungwini-stadsraad verkry. Kungwini is ontbind en Donkerhoek vorm nou deel van die Tshwane-metroraad. Nuwe verordeninge oor advertensieborde (billboards) is in 2014 deur Tshwane deurgevoer. Daarvolgens moet heraansoek binne vyf jaar vanaf 2014 vir borde wat deur Kungwini goedgekeur is, gedoen word.

PJ en Connect Media se prokureur het bewyse aan Die Bronberger voorgelê dat die bord wettig opgerig is en aan al die bepalings betreffende padveiligheid voldoen. Volgens PJ is dit egter hier duidelik ‘n geval van estetiese onaanvaarbaarheid deur die gemeenskap. Sy maatskappy en die betrokke grondeienaar neem dit ter harte en onderneem daarom om die bord van die rant af te verwyder.

‘n Ontmoeting met belanghebbendes word vir Februarie beoog om ‘n alternatiewe perseel in die nabye omgewing te oorweeg, sê PJ.

Mike Strange het laat weet dat hy met Lex, wat naby die gewraakte bord woon, ander inwoners van die omgewing en die Magalies/Bronberg-grondeienaarsvereniging (MBGV)  in aanraking was. Die vereniging het volgens Mike besluit om te ‘baklei’ teen die oprigting van alle ongewenste advertensieborde in die gebied en ook teen ander ongewenste en onwettige grondaanwendings.


Die advertensiebord langs die N4 by Donkerhoek

Sommige van dié aanwendings het heel waarskynlik ‘n negatiewe invloed op die watergehalte van die Pienaarsrivier en op die gebied se grondwater. Mike het ook onderneem om die ongewenste oprigting van advertensieborde in sy wyk met die stadsraad op te neem.

Enkele van die reaksies van Die Bronberger se lesers wat tot die verwydering van die MTN-bord bygedra het en wat met die betrokkenes gedeel is, was:

Esmé Meyer: “Baie negatiewe effek vir MTN. As hulle enigsins besef dat dit skade doen aan hulle beeld, sal hulle dit verwyder en as hulle gate in die klip gemaak het . . .”

Francois Naude: “Afskuwelik. Ek kon my oë nie glo toe ek die eerste keer daar verby is nie.”

Mariaan Kirstein: “Ek wil net weet of daar impakstudies gedoen is en of enige persone gekontak is en gevra is wat hul opinie is oor so ‘n lelike bord wat ‘n oogseer is?”

Japie Malan: “Onlangs ook die onsierlike affêre gesien. Glo hulle kon dit liewers êrens op pale monteer. Pas beslis nie teen die ‘krans’ nie.”

Hilly Hardeman Dunsbergen: “Baie lelik, die bord. So saam met die ander Menlyn-bord by die snelweg ontsier hulle ons omgewing.”

Billy Crous: “Die stukkies mooi natuur wat ons oor het, moet so verongeluk word! Nee man, waar gaan dit stop! Ek wens die wind waai hom af as hulle dit nie self verwyder nie. Dis skaamteloos wat mense sal doen vir geld.”

Sophie Richter Wolfaardt: “Dis amper soos die spreekwoord; gekke en dwase skryf op mure en . . . Geen respek meer vir niks!”

 

© 2024 Die/The Bronberger