Planne vir reuse sandmyn bedreig Rayton Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 31 January 2017 22:15
Untitled Document

Mense van die Rayton-omgewing is ontstoke oor die beplande sandmyn van 678 hektaar, wat baie groter as die dorp self gaan wees. Die myn word op gedeeltes 7, 9 en 55 van die plaas Kaalfontein, digby Rayton, beplan.

Inwoners het tot 30 Januarie kans om as belanghebbende partye in die openbare deelnameproses te registreer en seker te maak dat hulle besware en voorstelle in ag geneem word. Diegene wat registreer het ook die kans om die onafhanklike studies wat gedoen gaan word, onder oë te kry.

Besware
Inwoners sê dat so ‘n sandmyn die waarde van hulle eiendomme gaan laat daal en dat misdaad sal toeneem omdat meer trekarbeiders by die myn sal wil aansoek doen vir werk. Hulle sê ook dat dit ‘n toename in verkeer sal veroorsaak op ‘n pad wat klaar nie in staat is om die swaar verkeer te dra nie.

Lede van die Cullinan Bewarea sê dat die myn ’n massiewe impak op die omgewing gaan hê en dat mense daagliks met geraas en stof gaan moet saamleef. Volgens inwoners is dit nie net stof nie, maar ‘n fyn poeierstof en mense sal meer bors- en sinusprobleme ontwikkel, huishoudelike toerusting sal ‘n korter leeftyd hê, boorgate sal beïnvloed word en die grondwatervlak sal daal.


Die ligging van die beplande sandmyn op gedeeltes 7, 9 en 55 van die plaas Kaalfontein, reg langs Rayton

Studie
Leap-omgewingskonsultante is deur die aansoeker om die mynlisensie, Enlightened Christian Gathering Church, aangestel om die omgewingsimpakstudies te behartig. ‘n Verslag wat oor die studie geskryf gaan word moet die potensiële impak van die voorgestelde aktiwiteite identifiseer, die openbare deelnameproses beskryf asook die omgewingsbestuursplan en versagtingsmaatreëls wat daargestel moet word om negatiewe impakte te verminder.

Spesialisstudies wat gedoen gaan word raak die volgende onderwerpe: Ekologiese sensitiwiteit; erfenisimpak; paleontologiese-; vleiland-; vloedlyn-; geohidrologiese beoordeling; en grond- en landbou-impakte.

Om as ‘n belanghebbende party te registreer, bel vir Zelda van Wyk van Leap by 012-344-3582, stuur ‘n faks: 086-606-6130 of ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger