Geliefde Jaco sterf ná motorfiets trein tref Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 31 January 2017 22:15
Untitled Document

Jaco Hendriks van Tweedracht is op 3 Januarie dood nadat hy ongeveer 10 km buite Bronkhorstspruit met sy motorfiets teen ‘n trein vasgery het.

Jaco het saam met vriende gaan motorfietsry toe hy en Mauritz van Niekerk afgedraai het om ‘n binneband in Bronkhorstspruit te gaan koop. Die ongeluk was naby die ou Pretoria/Bronkhorstspruitpad (R104) in ‘n draai waar daar baie bome langs die pad is.

Die trein het nie gestop nie, maar Transnet-beamptes het kort ná die ongeluk op die toneel opgedaag.

‘n Remstreep op die pad wys hoe Jaco probeer uitswaai en rem het. Hy en sy BMW F800GS Adventure het in die veld langs die spoor beland. Jaco het interne beserings opgedoen en sy linkerbeen, -skouer en -pols is gebreek.


Jaco Hendriks by sy motorfiets

Hy is met ‘n helikopter na die Steve Biko-hospitaal geneem waar hy oorlede is, ná sy hart twee keer gaan staan het. Hy is die eerste keer bygebring.

Die 43-jarige Jaco het met beeste en skape op Tweedracht geboer. Jaco se oudste broer, Johan, sê dat hy veral vir sy liefde vir diere onthou sal word.

Bure vertel dat Jaco altyd graag gehelp het, of dit nou was om slange te verwyder, patrollie te stap, houtkaste in te sit of brandbane te sny.

Jaco was ongetroud en laat geen kinders agter nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger