Inwoners kan nog ingryp oor deurpad Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 12 December 2016 15:40
Untitled Document

Inwoners het nou kans om hulle sê te sê oor die deurpad wat die gesig en aard van die Bronberg-gebied vir ewig sal verander. Die hersiene konsep omvangbepalingsverslag vir die PWV17, wat die N4-Oos snelweg met die Delmas-pad gaan verbind, kan tot 3 Februarie besigtig word.

Bokamoso Landskapsargitekte en Omgewingskonsultante, wat deur die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer aangestel is om die omgewingsimpakstudies vir die PWV17 te behartig,  het op 17 November ‘n kennisgewing uitgereik wat sê dat mense 30 dae kans het om as belanghebbendes in dié projek te registreer.

Dié is die tweede fase van openbare deelname. In November verlede jaar het ons berig dat ‘n openbare deelnameproses vir dié deurpad aan die gang was. Weens die groot hoeveelheid kwessies rondom die deurpad is dit besluit om die aansoek aan die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling te onttrek en om ‘n hersiene konsepverslag vir die deurpad op te stel.

Gebiede
Die PWV17 gaan deur die volgende gebiede loop: Tweefontein 19 JR; Zwartkoppies 364 JR; Mooiplaats 367 JR; Tierpoort 371 JR; Zwavelpoort 373 JR; Grootfontein 394 JR; Elandsfontein 412 JR; Tweefontein 413 JR; Bashewa Holdings nommer 1 en 2; en Tweefontein 413 JR.

Die voorgestelde deurpad sal by die beplande PWV5-pad aansluit by ‘n punt suid van die Delmaspad en oos van Elandsfonteinweg op die plaas Elandsfontein 412 JR, gedeelte 75. Die pad strek van daar af noordwaarts en gaan die volgende paaie kruis: Garstfonteinweg óf op Grootfontein 394 JR, gedeelte een, of Tiegerpoort 371 JR, gedeeltes 2, 28, 245 en 235; Lynnwoodweg (Grahamweg) op Zwavelpoort 373 JR, gedeeltes 299 en RE/250; en die Boschkoppad op Zwavelpoort, gedeelte 43 en 34.
Die pad strek tot ‘n punt oos van Silver Lakesrylaan op Zwartkoppies 364 JR.


Die roete van die PWV17-deurpad

Afrit
In Desember 2015 het ons berig dat die PWV17 deurpad by die beplande Hazeldean-afrit van die N4-Witbanksnelweg gaan aansluit.

Hendrik van Zyl, ontwikkelingsbestuurder vir die Hazeldean-dorpsgebied langs Silver Lakes het verlede jaar bevestig dat Hazeldean se ontwikkelingspan reeds al die omgewingsgoedkeuring vir die bou van ’n afrit gekry het. Die pad is klaar ontwerp en verskeie goedkeurings van al die relevante padowerhede is gegee.

Die beplanning was dat bouwerk aan die Hazeldean-afrit van die N4-Oos snelweg in die derde kwartaal van 2016 sou begin.

In November vanjaar het Hendrik laat weet dat, met die verandering in die plaaslike owerheidstruktuur sowel as die besware van verskeie grondeienaars, die proses vertraag is.

Ontwerp
Abland en Sable Homes, as ontwikkelaars van die Hazeldean-dorpsgebied, het in die middel van November vanjaar finale goedkeuring gekry vir die voorlopige ontwerp van die PWV17-deurpad tussen die Pienaarsrivier en die suidelike grens van Hazeldean. Goedkeuring is reeds verleen vir die N4-wisselaar met voorstelle vir ekstra bane op die N4-snelweg. Die goedkeuring is deur Gautrans in samewerking met die TRAC, Sanral en die metroraad, verleen.

Die volgende stap is ‘n gekombineerde befondsingsinisiatief, gedryf deur die hoof-ontwikkelaars in die gebied, soos Sable Homes, Abland, Balwin en Atterbury, sowel as Sanral en die metroraad.

Die befondsingstruktuur is nog in die onderhandelingsproses. Daar is geen besliste voltooiingsdatum nie. Die beraamde koste van die PWV17/N4 wisselaar se eerste fase is rondom R600-miljoen.

Registreer
Om as ‘n belanghebbende party in die PWV17 openbare deelnameproses te registreer, bel Bianca Cronjé van Bokamoso Landskapsargitekte en Omgewingskonsultante by 012-346-3810. Stuur ‘n faks na 086-570-5659 of ‘n e-pos na: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger