Massiewe lek voer jare lank pypwater na plaasdamme Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 October 2016 23:25
Untitled Document

‘n Massiewe waterlek het sonder ophou oor die afgelope drie of meer jaar ontsaglike hoeveelhede munisipale water in Tygervallei vermors, voor die Bronnie dit onder die aandag van die gebied se nuwe raadslid, Mike Strange, gebring het en daar met herstelwerk begin is.


Werkers besig om die watertoevoerpyp bloot te lê
Foto Mike Strange

‘n Ontwikkelaar, Hennie Vermeulen, het Die Bronberger vroeër gebel en gesê water stroom teen ‘n ‘ontsaglike tempo’ by ‘n stukkende drukbeheerklep in die toevoerpyp uit en beland in die spruit. Al die damme laer af in die spruit loop al oor, het hy gesê.

Hennie, die tegniese bestuurder by Lebra Development, het die vermorsing toe al verskeie kere aangemeld. Hy sê munisipale spanne het wel ‘n paar keer na die lekkasie gaan kyk, maar het telkens onverrigte sake weer vertrek.


Mike Strange

Dit blyk dat die pyp al minstens drie jaar lank lek. Mense wat in die omgewing woon, het aanvanklik gedink dit is ‘n fontein. Teen die begin van vanjaar het die vermorsing egter sigbaar groter geword en is dit by die vorige stadsraad aangemeld. Die pyp is oopgegrou, maar niks is gedoen om die vermorsing stop te sit nie.

Raadslid Mike Strange het dadelik werk van die saak gemaak, nadat die Bronnie hom gekontak het. Hy het bevestig dat ‘n waterspan van Tshwane Streek Ses die pyp oopgegrawe het en toe die saak aangemeld het by die afdeling belas met massa-waterdienste en dit is waar dinge vasgesteek het.


Die watergevulde gat waar die drukbeheerklep gebreek het
Foto: Hennie Vermeulen

Mike het die saak van ‘gebrekkige reaksie’ en watervermorsing verder gevoer met die gevolg dat die lid van die burgemeesterskomitee, belas met infrastruktuur, Darryl Moss, ingegryp het om die saak op te los. ‘n Werkspan het die volgende dag (Vrydag) begin werk aan die probleem. 

Met die skuldige drukklep onder beheer, het die pyp egter op ander plekke begin lek, en daar is die hele naweek en daarna gespook om watervermorsing, wat net so erg as die aanvanklike lek was, hok te slaan. Die toevoer is afgesluit en dele van Tygervallei, Silver Lakes en Hazeldean is sonder water gelaat. Mike het die perseel telkens besoek om te kyk na die vordering.


Water stroom rivier toe waar al die damme stroomaf naderhand oorgeloop het
Foto: Hennie Vermeulen

Volgens Mike is waterbesparing, veral nou met die waterskaarste, baie belangrik vir die onlangs verkose stadsraad en word alles moontlik gedoen om lekplekke op te spoor en reg te maak. ‘n Spesiale taakspan is intussen deur die raad saamgestel om uitsluitlik na dié probleem te kyk.

Die vorige raad het die infrastruktuur van die stad ‘jammerlik afgeskeep’ en ‘n moratorium wat op indiensneming geplaas is, het sekere belangrike diensspanne met te min gekwalifiseerde personeellede gelaat.

 

© 2024 Die/The Bronberger